Breek die Mure af wat Jou Verhoed om God se Stem Duidelik te Hoor
Die vermoë om diep te luister is besig om 'n verlore kuns te word! Leer in die hierdie preek hoe om die hindernisse af te breek wat jou verhoed om God se stem te hoor.
Matteus 13:9: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”
Ons oorwinning in hierdie lewe begin by om God se stem te hoor. Wanneer ons soos Jesus, net doen en sê wat ons van die Here hoor sal ons nooit foute begaan nie. Die vermoë om diep te luister is besig om 'n verlore kuns te word!
In ons moderne wêreld is daar 'n oorvloed van geraas—sosiale media, werkseise, die nuus, en ons eie gedagtes. Dit kan voel asof God se stem in hierdie chaos verdwyn. Tog is dit presies hoekom Jesus Christus gekom het om ons te versoen met die Vader. Hy het die skeiding (sonde) kom verwyder, die voorhangsel is geskeur. Ons hoef dus nie meer te worstel, te offer, en te sukkel om God se stem te hoor nie.
Dit is immers wat ons kinders van God maak.
Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. (Rom 8:14)
Nog meer, ons is nou die tempel van die Heilige Gees! God woon nou in ons, hoekom sal ons dan nie Sy stem hoor nie?
The Spirit who inhabits us is not mute, restricting himself to an occasional nudge, a hot flash, a brilliant image or a case of goose bumps. Dallas Willard [1]
Hoe Breek ons die Bure af wat ons Verhoed om God se Stem Duidelik te Hoor?
Die feit dat jy graag God se stem wil hoor, is jou geestelike gehoor. Die meeste mense dink nie eers daaraan om God se wil te vra nie. Dit is wat Jesus bedoel met die vers: "Die wat graag wil hoor sal hoor." God praat primêr met ons in ons Gees, of soos die Bybel sê "ons hart". Die koninkryk van God is immers nou "in ons hart!" (Luk 17:21).
Het jy al 'n bergpoel water gesien, wat kristal helder blink soos 'n spieël op 'n windstil dag? Dit is hoe jou hart stil moet word, om God se stem te kan hoor. Hoe meer ontstuimig jou binnewêreld, hoe moeiliker is dit om God se stem te onderskei.
Die Groot Hindernisse
1. Sonde en Onbelyde Sake
Jesaja 59:2 sê:
“Maar jul ongeregtighede het skeiding gebring tussen julle en jul God.”
Sonde veroorsaak geestelike doofheid. Dit is soos ‘n muur wat ons van God skei. Jesus het gekom om hierdie muur af te breek.
Hebreërs 10:19-20 herinner ons:
“Ons het dan, broeders, vrymoedigheid om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus, langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het...”
Bely jou sonde (1 Joh. 1:9) en laat God jou hart reinig sodat jy Sy stem kan hoor. Die grootste hindernisse om God se stem reg te hoor is: bitterheid, onvergewensgesindheid, wrokke koester, aanstoot neem. Selfs wat jy dink jy hoor, sal besoedel wees met weerwraak en regverdiging van jou eie oordele. Die enigste Bybelse regverdigbare oordeel is een-tot-een konfrontasie!
“Skep vir my ’n rein hart, o God, en vernuwe ’n vaste gees binne-in my.” Psalm 51:12
Vra die Here om jou hart en gedagtes skoon te maak van alles wat jou verhinder om Hom te hoor. Ons hart is soms so vol voorkeure, vooropgestelde idees, en voorskrifte van wat ons graag sal wil hoor. As mens, soek ons maar meestal ons eie belang. Ons moet raak soos radios wat ingestel is op God se Radio Frekwensie, dan sal jy deurentyd hoor. Sy stem, woord, denke, voorskrifte, beginsels, waarhede, en denkpatrone is soos 'n bepaalde frekwensie (klankbaan) van denke en beweegrede. Wanneer jy hierdie frekwensie begin hoor, hoor jy dit oral.
Werp al jou bekommernisse op Hom
"Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle." 1 Petrus 5:7 (OAV)
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Phil 4:6-7)
2. Geraas van die Wêreld
Markus 4:19 waarsku ons dat:
“die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede na ander dinge... die Woord verstik."
Ons moet doelbewus stil raak en die wêreld se geraas uitskakel.
“Wees stil en weet dat Ek God is.” Psalm 46:11
Vind daagliks tyd om stil te raak voor God. Dit beteken prakties, sit die geraas af, maak die boeke toe, sit die foon af, skakel die TV af, onttrek uit daardie vriendekring uit! Laat die Heilige Gees jou lei, na wat jy moet luister.
“God often speaks loudest when we're quietest.”
― Mark Batterson, Whisper: How to Hear the Voice of God[2]
Leer om jou fokus algeheel op die Here te konsentreer! Dis immers hoekom ons deur sang en musiek die Here loof en prys, om daardeur ons fokus in te stel.
Maak tyd vir gebed en stiltetyd sonder afleidings. Matteus 6:6 sê:
“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in en sluit jou deur, en bid tot jou Vader wat in die verborgene is.”
Deur jou hart "skoon te bid", maak jy jouself ontvanklik om meer te hoor.
Soms terwyl jy bid, begin jy die antwoord bid.
Gebed, petisie en intersessie maak jou gedagtes se rakspasie skoon om nuwe dinge by die Here te hoor.
3. Leer om te Wag op 'n Woord van die Here.
Ons samelewing is oorlaai met menings, ideologieë en valse leringe. Jesus waarsku in Johannes 10:27:
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.”
Om Sy stem van ander te onderskei, moet ons Sy Woord ken en bestudeer. Die Woord is ons toetssteen (2 Tim. 3:16). Die Woord wil geleef word! Jesus wil beoefen word. Dit is in die doen, dat ons die genade ontvang om sonde en boosheid te oorwin. Hoe meer tyd ek met die Woord spandeer, preke, bybelstudies, boeke, kommentare hoe meer hoor ek die Here! Dis soos om 'n nuwe taal aan te leer. God se taal is die Woord.
Soms is ons gedagtegang en manier van dink, teenstrydig met hoe God dink (Isaiah 55:8-9). Soms is ons waardes nie in lyn met wat vir Hom waardevol is nie (Matthew 6:19-21). Dit is hoekom dit so belangrik is om gedurig God se Woord te bestudeer, om Sy wil en manier van dink te verstaan.
Dikwels hoor ons God, maar ons huiwer om te gehoorsaam. Jakobus 1:22 waarsku: “En wees daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Gehoorsaamheid open jou ore vir meer van Sy leiding. Dit is die primêre manier hoe ek weet ek het reg gehoor, ek ontvang energie om iets te doen. Ek wil dit doen! Hoekom sal die Here ook vir jou iets nuuts sê, as jy die vorige opdrag nog nie uit gevoer het nie.
Hoe God Praat
1. Deur Sy Woord
God se Woord is Sy primêre manier van kommunikasie. Psalm 119:105 sê:
“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”
Wanneer jy die Bybel lees, luister jy na God. Doen 'n lees deur die Bybel program op YouVersion. Lees 'n fisiese Bybel, en hou dit in jou hand vas. Koester die voorreg om die Bybel te kan lees. Lees totdat iets jou aandag vang, en begin dan met jou ondekkingsreis, skryf neer wat jy begin verstaan. Hou 'n gebedsjoernaal.
2. Deur Sy Gees
Johannes 14:26 leer ons dat die Heilige Gees ons leer en herinner aan wat Jesus gesê het. Wanneer ons die Gees toelaat om te werk, sal ons God se stem duideliker hoor. Die gawes van die Heilige Gees soos profesie, woord van kennis, tale en uitleg van tale kan ons help om God se stem te hoor. In die meeste gevalle is hierdie inspraak, 'n bevestiging van wat alreeds in jou hart is. Toets ook wat jy hoor, of dit in lyn is met die Gees van die Woord, of Gees van Christus.
3. Deur Sy Liggaam
God gebruik soms ander mense, selfs omstandighede, om met ons te praat. Spreuke 11:14 sê:
“Waar daar geen leiding is nie, val ’n volk; maar hulp is daar in die menigte raadgewers.”
Dit is wonderlik om aan 'n geloofsgemeenskap te behoort, waar almal God se stem hoor. In hierdie samekomste word dit wat jy hoor getoets aan wat ander ook hoor. Saam hoor ons beter!
God Kommunikeer Onophoudelik
God is nie nooit stil nie. Psalm 19:2 sê:
“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”
Sy stem is oral—deur Sy Woord, Sy Gees, Sy skepping, en selfs in die stilte.
Vandag, maak ’n besluit: breek die mure af wat jou verhinder om God se stem te hoor. Soek Hom ywerig, luister noukeurig, en wees gehoorsaam. "Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!"
Gebed
Here, ek bely dat daar mure in my lewe is wat my verhinder om U stem te hoor. Help my om stil te raak, U Woord lief te hê, en te luister met ’n gehoorsame hart. Ek wil wandel op die nuwe en lewende weg wat U deur Jesus vir my geopen het. Amen.
[1] Hearing God. Developing a Conversational Relationship with God. Dallas Willard
[2] Whisper. How to Hear the Voice of God, Mark Batterson.