Die Geestelike Outoriteit van die Gelowige
Ontwaak en leef in die geestelike outoriteit en gesag wat jy alreeds in Christus Jesus as erfporsie ontvang het.
Die kerk geskiedenis is ryk aan uitstaande geloofshelde wat nie net onverskrokke in God se roeping en woord geglo het nie, maar presidente en konings getrotseer het, en selfs regeringsbesluite help verander het. Dink aan William Wilberforce, Hans Hauge, David Livingstone, Moeder Sabrina en onlangse figure soos Reinhardt Bonke en Billy Graham. Die teendeel is ongelukkig ook waar, Christene is 'n bewese groot getal mense regoor die aarde, en die meeste wandel nie in die gesag en outoriteit wat die Here vir ons in Christus beskikbaar gestel het nie.
Hierdie boodskap volg op die vorige twee boodskappe in Oktobermaand 2024. Iemand wie se innerlike wêreld gesond is, en hom of haarself oefen in godsaligheid in die "geestelike formering gimnasium" sal wandel in die gesag wat God vir elkeen bestem het, volgens ons onderskeie roepings.
Veral in 'n tyd soos hierdie is dit soveel te meer belangrik dat ons in Sy gesag sal lewe en wandel.
Hoekom Wandel Ons Nie in Sy Gesag Nie?
Baie Christene en gelowiges loop nie in die gesag wat aan hulle gegee is nie, en daar is verskeie redes hiervoor wat diep in hul geestelike lewens en denke ingeburger is.
Eerstens is daar 'n gebrek aan kennis oor hierdie gesag. Hosea 4:6 sê: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis.” Baie gelowiges verstaan nie die volle omvang van hul identiteit in Christus en die outoriteit wat hulle het as kinders van God nie. Sonder hierdie begrip sukkel hulle om hul geestelike posisie en verantwoordelikhede ten volle te omarm.
Tweedens speel twyfel en vrees 'n groot rol. Die wêreld is vol uitdagings en negatiewe invloede wat maklik kan lei tot 'n gevoel van onwaardigheid of minderwaardigheid. In plaas daarvan om in geloof en vertroue op te staan, word gelowiges dikwels vasgevang in 'n mentaliteit van nederlaag. Hulle aanvaar dat hul omstandighede onveranderbaar is, en glo nie dat hulle werklik gesag oor hul lewens en die geestelike realiteit het nie. Hierdie vrees blokkeer hul vermoë om vanuit die volheid van die Heilige Gees wat in hulle woon te leef.
Derdens, die kultuur van self-afhanklikheid en wêreldse denke het baie Christene se siening oor gesag verswak. Ons leef in 'n tyd waar mense aangemoedig word om net op hulself staat te maak, en hierdie individualistiese benadering laat min ruimte vir geloof en vertroue op God se gesag. Gelowiges word vasgevang in die idee dat hulle dinge op hul eie moet doen, in plaas daarvan om te besef dat hulle gesag in Christus het om probleme en uitdagings in die krag van die Heilige Gees aan te pak.
Laastens, gebrek aan geestelike dissipline en gebed maak dat gelowiges nie daagliks hul geestelike wapenrusting aantrek en die volheid van hul gesag uitleef nie. Wanneer gebed, Bybelstudie en geloofsgemeenskap afwesig is, verloor gelowiges die fokus en krag wat hulle nodig het om in die gesag wat Christus hulle gegee het te wandel. Jesus het ons gewys hoe belangrik gebed en gereelde omgang met die Vader is om gesag uit te leef. Sonder hierdie gewoontes is dit moeilik om geestelik sterk en vol geloof te bly.
Valse Gesag
Selfbevordering en vals gesag verskil fundamenteel van ware geestelike gesag, en hierdie verskille lê in die oorsprong en die doel van elkeen.
Selfbevordering is wanneer 'n persoon sy eie belang, talente, of prestasies vooropstel om erkenning en aanvaarding te verkry. Dit gaan gewoonlik gepaard met 'n behoefte om gesien en bewonder te word, eerder as om werklik God se wil te dien. Selfbevordering soek om ander te beïndruk en mag dikwels dieper motive hê wat spruit uit trots, onsekerheid, of die soeke na status. Die fokus is op die self, en die gesag wat uit selfbevordering vloei, is oppervlakkig en tydelik omdat dit nie deur God onderskryf is nie.
Vals gesag kom voor wanneer iemand voorgee om 'n geestelike rol of verantwoordelikheid te vervul, maar nie werklik deur God aangestel is nie. Hierdie tipe gesag is dikwels manipulerend, op selfvoordeel ingestel, en kan mense aflei van die waarheid. Dit is 'n nabootsing van ware gesag, en omdat dit nie deur God verorden is nie, dra dit nie die krag en waarheid van die Heilige Gees nie. Die gevolge van vals gesag is dikwels verwarring en geestelike skade, aangesien dit nie 'n ware getuienis van Christus is nie.
Ware geestelike gesag, aan die ander kant, kom direk van God en word herken deur sy nederigheid, diensbaarheid, en die vrugte van die Gees. Hierdie gesag ontstaan wanneer iemand deur God geroep en bemagtig is vir 'n spesifieke taak of bediening. Ware geestelike gesag is nie afhanklik van die persoon se eie vermoëns of charismatiese persoonlikheid nie, maar van die krag en teenwoordigheid van God in en deur die persoon. Dit dien om ander op te bou, die waarheid te bevestig, en bring altyd eer aan God, nie aan die individu nie. Dit is ook volhoubaar, omdat dit in verhouding met God gewortel is en versterk word deur gehoorsaamheid aan Hom.
En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig! Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ’n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het. Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle? Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het. (Handelinge 19:13-17)
Ware Geestelike Gesag
Om in innerlike selfvertroue en geestelike gesag te wandel, is 'n kragtige kombinasie van sielkundige veerkragtigheid en geestelike bewustheid. Hierdie tipe selfvertroue is diep gewortel in 'n veilige identiteit – om te weet wie jy is en, belangriker nog, wie HY sê ek is. Hierdie selfvertroue is anders as selfversekerdheid wat op persoonlike prestasies of vermoëns gebou is; dit spruit eerder uit 'n 'n verhouding van verbondenheid met die Here en 'n geloofsgebaseerde versekering van God se ondersteuning en leiding.
Sielkundig gesproke toon mense wat in innerlike selfvertroue wandel sekere sleutelkenmerke: hulle het 'n gebalanseerde selfbeeld, veerkragtigheid teen kritiek van buite, en die vermoë om kalm te bly in uitdagende situasies. Hierdie innerlike krag beteken nie dat hulle immuun is teen twyfel of onsekerhede nie, maar dat hulle geestelike en sielkundige gereedskap ontwikkel het om hierdie uitdagings te oorkom deur 'n konstante afhanklikheid van 'n hoër doel. Hulle besef dat hul waarde en gesag nie kom van hul eie kwalifikasies nie, maar van die roeping en bemagtiging wat deur God gegee is. Hierdie oortuiging anker hulle en vorm 'n gesonde, nederige selfbeeld wat nie maklik geskend kan word nie.
Vanuit 'n geestelike perspektief is gesag nie 'n magsoefening oor ander nie, maar 'n diensgerigte invloed en inspirasie wat deur God se liefde en waarheid gedra word. Dit vereis 'n diep oorgawe, 'n erkenning dat enige gesag wat hulle dra nie hul eie is nie, maar aan hulle toevertrou is deur God. Hierdie erkenning lei tot nederigheid, en ironies genoeg versterk hierdie nederigheid die selfvertroue. Die individu hoef nie te probeer om homself te bewys nie, want hy rus in die wete dat God se krag deur hom werk, nie as gevolg van sy sterkte nie, maar dikwels juis in sy swakheid (2 Cor 12:9).
Die sielkundige kant van hierdie selfvertroue behels ook 'n hoë vlak van emosionele intelligensie. Geestelik selfversekerde individue het gewoonlik 'n verhoogde bewustheid van hul eie emosies en dié van ander, wat hulle in staat stel om verhoudings en konflik met genade te hanteer. Hulle is veilig genoeg om aktief te luister, empatie te hê, en bedagsaam te reageer sonder om bedreig te voel. Hierdie innerlike stabiliteit versterk hul geestelike gesag, aangesien mense natuurlik aangetrokke voel tot iemand wat beide medelye en sterkte uitstraal.
Geestelike Gesag en Jou Roeping
Moses het in gesag gewandel toe hy Israel uit Egipte gelei het. Hy het 'n heilige opdrag van God ontvang om die Israeliete uit slawerny te bevry en na die beloofde land te lei. Selfs al was hy aanvanklik onseker, het Moses voor Farao gestaan en magtige wonders verrig wat die Egiptiese magte oortref het. Sy gesag was nie in sy eie krag nie, maar in sy gehoorsaamheid aan God se roeping.
Nehemia, aan die ander kant, het as 'n hofdienaar van 'n heidense koning gesag uitgeoefen om Jerusalem se mure te herbou. Ondanks teenstand van buurlande en interne twyfel, het hy met volharding en gebed sy heilige opdrag uitgevoer. Hy het geweet God het hom geroep vir hierdie taak, en sy geloof en leierskap het hom die moed gegee om die volk te motiveer en die werk te voltooi.
Daniël het sy gesag gedemonstreer in die koninklike hof van Babilon, waar hy weier het om sy geloof of oortuigings prys te gee, selfs onder dreigemente van die leeukuil. Hy het 'n heilige roeping van God ontvang om standvastig en getrou te bly, en sy outoriteit was gesien in die wyse waarop God hom geopenbaar het en hom bo die ander koninklike raadgewers verhef het. Daniël se gebedslewe en sy profetiese visioene het getuig van sy verbondenheid met God, wat hom bonatuurlike gesag gegee het om invloed uit te oefen.
Paulus, in die Nuwe Testament, het in gesag gewandel deur sy roeping as apostel van die heidene. Hy het vervolging en gevare in die gesig gestaar, maar het nooit teruggestaan van sy opdrag nie. In sy sendingreise, briewe, en gemeentes het Paulus in die krag van die Heilige Gees gewerk, siekes genees en demone uitgedryf. Hy het geweet sy gesag kom van Christus self, wat hom geroep het, en hierdie oortuiging het hom toegerus om met vasberadenheid die evangelie te versprei, ondanks alle weerstand.
In elke geval sien ons hoe hierdie manne in gesag gewandel het omdat hulle 'n heilige opdrag van God ontvang het. Hulle het geweet hul taak was nie 'n menslike roeping nie, maar 'n goddelike een. Hierdie sekerheid het hulle die moed en krag gegee om groot dinge te bereik, nie in hul eie naam nie, maar as verteenwoordigers van die Almagtige.
Bybelse Fundering van Ons Gesag in die Here
Ou Testament
Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Genesis 1:26-28
AS jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie. (Deuteronomy 28:1, 13)
wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: (Psalm 8:4-7)
Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees. (Daniel 7:27: Heb 12:24)
En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. (Matt16:19)
Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. (Luk 10:19)
Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. (Rom 5:17)
JOHANNES aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Open. 1:1-6
Ons Erflating in Christus
Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Romans 8:16-17
“In Hom het ons ook 'n erfdeel ontvang, nadat ons vantevore daartoe verordineer is volgens die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil...wat die waarborg is van ons erfdeel, tot verlossing van die volk wat Hy verkry het, tot lof van sy heerlikheid.” Ephesians 1:11-14
“...en dank die Vader wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig; Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” Kol. 1:12-13
“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfdeel as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” Kol. 3:23-24
“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” Gal. 3:29