Die Tiende Vraagstuk

Die Tiende Vraagstuk

DIE TIENDE VRAAGSTUK

Die vraag oor tiende is soos die weegskaal vraagstuk in vele mense se lewens. Ek weet ek moet ʼn sekere gewig weeg, maar ek weet ook dat daai syfer nooit ʼn realiteit op my skaal gaan word nie, so ek bly maar stil en praat nooit daaroor nie. Niemand moet ook weet wat ek weeg nie, dis uiters belangrik dat dié inligting maar eerder net in my kop alleen bly. Die realiteit van die kerk se boeke is egter ʼn refleksie van hoe min mense werklik hulle tiende betaal.

In ons gemeente verplig ons niemand om tiende te betaal nie. Ons gee geen spesiale tiende koevertjies uit nie, en merk nie af wie tiende gee of nie. Al hoe ons weet wie getrou gee is die maandelikse internet betalings, of as iemand per tjek betaal. Die realiteit is duidelik, die meeste mense betaal nie tiende nie. Dit gaan skynbaar ook so met die meeste mense wat oorgewig is … maar die skrywe is nie om jou te kry om gewig te verloor nie, en ook nie om meer geld uit mense te probeer kry nie. Ek soek duidelikheid oor wat God wil hê ek as Sy rentmeester met Sy geld moet doen.

Tot hede is die praktyk oor tiende in ons gemeente die volgende: Alles wat ons doen moet uit geloof wees, mense word dus geleer om by God self te hoor waar en hoeveel hulle moet gee. Dit is ook die rede hoekom ons elke Sondag vir mense geleentheid gee om te deel wat God hulle gesê het en te getuig oor die seën van gee. Geloof kom deur die gehoor, en gehoor deur die Woord van God. (Rom 10:17) Hierdie skrywe is ook nie ʼn poging om mense te probeer forseer, manipuleer of te oortuig om tiende te betaal nie! Ons volstaan dat God gehoorsaamheid eer! As ons as kerk leierskap gehoorsaam is en bly, sal God vir ons sorg! Ons dank God dan ook vir diegene wat op hulle beurt gehoorsaam is God, want sodoende kry God alleen die eer!

Moet ek tiende betaal of nie?

Is dit nie maar net ʼn Ou Testamentiese wet nie? Ek móét soveel dinge betaal, en ek kom nie uit met my geld nie, ek het nie genoeg om my tiende te betaal nie! As ek my tiende betaal, gaan ek nie genoeg geld oorhê vir kos nie.

Daar is baie dialoog op die internet oor die misbruik van tiendes en offergawes deur televisie predikers en die wyse waarop hierdie predikers geld uit mense mergel vir hulle bedieninge. Daar word dan ook geargumenteer teen tiende vir die volgende redes: Die Jode betaal nie vandag tiende nie, want daar is nie meer ʼn tempel nie, en ook nie meer ʼn levitiese orde nie. As hulle nie tiende betaal nie hoekom word Christene verplig? Dit is ʼn Ou Testamentiese wet en dus nie meer op ons van toepassing nie. Nêrens in die NT word die kerk opgeroep om tiende te betaal nie, nie deur Jesus of die apostels nie. Tiende was bereken op landbou produkte en nie geld nie. Dit impliseer dus dat net boere tiende moet betaal en nie salaristrekkers nie. Indien mense wel ver moes trek met hulle produkte kon hulle, die tiende omruil vir geld.

Wat is God se doel met tiende? Lees (Deut 14:22-29)

Ons word nie meer regverdig deur die wet nie, maar die wet is ‘n leermeester ‘Tutor’ om ons te onderrig in God se wee. Indien iemand nie die onderrig van die wet ontvang nie, bring mense God is nie die skande soos ‘n seun wat werklik koning is deur sy genetika, maar omdat hy hom nie laat leer deur die koninklike hof nie, maar hy dwase besluite.

v23 die doel van die tiendes is om jou te leer om altyd die Here jou God te eer.

v27 vir die leviete wat nie ʼn erfdeel ontvang het saam met al die ander stamme nie. Hulle behoort aan die Here. (Num 18:20 – 32) Vergoeding vir die Leviete se diens wat hulle in die tempel doen, en hulle moet weer op hulle beurt ʼn tiende van dit wat hulle ontvang het aan die Here gee. (Neh 12:47) die leviete se tiende was vir die priesters. (2 Kron 31:6-21) het die hele volk getrou hulle hele tiende gebring en verdeel aan al die Levitiese seuns vanaf drie jaar en op, wat nog sou bedien in die huis van die Here!

v29 vir die vreemdelinge, wees en weduwee.

(Lev 27:30-33) v30 dit behoort aan die Here en is heilig. In (Jos 6:17-27 – 7:1-26) Lees ons van die stad wat aan die Here behoort en geheilig is met die banvloek. Niemand mag daarvan gevat het nie. Tog het Akan van die buit weggesteek in sy tent. Sy ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat hulle nie die volgende stad kon beset en oorwin nie. Akan, sy familie en al sy besittings is saam met die buit verbrand.

(Deut 26:1-15) v10 Om God te aanbid omdat Hy jou uitverkies het en gebring het na die land.

Daar is verskillende offers gebring waarvan tiende maar net een was.

(Deut 12:6-7) brandoffers, ander offers, tiendes, julle gawes, julle gelofte-offers, julle vrywillige offers en die eerstelinge uit julle bees- en skaaptroppe bring.

(Neh 10:36-39) Die beste van die eerstelinge van die oes.

Waar bring ek en gee ek God se tiende?

Aangesien die engele nie God se tiende kom haal en opeis nie. Vir wie gee ons dit? En waar gee ons dit? (Deut 12:13-18) v13 Moenie jou offers sommer op enige plek bring nie. Alleenlik die plek wat die Here sal aanwys… dit sou later die tempel word. Ons glo jy sluit nie by ʼn gemeente aan nie, God voeg jou by. Ons glo dat elkeen wat deel is van ons gemeente deur God gestuur is, en dat God persoonlik in elke persoon se hart gewerk het om deel te wees.

v18 In die dorp saam met julle familie, en werkers en die leviete wat in die dorp woon… as die plek (tempel te ver is) mag julle by julle huis die tiende geniet. Tiende word geniet saam met die mense waar jy bly. Wanneer ons die hoofstuk van die begin af lees, sien ons dat hulle eers die afgode en afgodstempels moes afbreek en dan die Here met hulle tiende in hulle dorpe dien. Om jou tiende in ʼn dorp of plek te gee waar jy nie bly nie, is om jouself te verdeel, en nie algeheel betrokke te wees in die plek waar God jou geplaas het nie. Jou eerste verantwoordelikheid glo ek lê by jou plaaslike gemeente, want God wil dat Sy heerlikheid die aarde vul, en dit is hoekom hy elkeen van ons op ʼn sekere plek geplaas het om daar ʼn verskil te maak. Alleen is dit nie moontlik om in ʼn gemeenskap werklik ʼn verskil te maak teen duisternis nie. Daarom ons visie: “Reform the church to reform the land!”en “It takes an accurate church to raise a village!” (Mat 16:18) Wanneer gemeentes akkuraat funksioneer sal hulle nie die tiende net vir hulleself gebruik nie, maar uit die inkomste vir die wees, weduwee en arme voorsien. Verder sal hulle saam vir die betrokke organisasies met wie hierdie gemeente skakel en netwerk voorsien. Ons probleem is dat die meeste gemeentes nie soos ʼn liggaam funksioneer nie, en daar ʼn te groot skeiding is tussen die leierskap en die res van die gemeente.

Die tiende is gebruik om fees te vier en saam met die leviete, die wees, en weduwee asook jou werknemers. Uiteindelik was alle tiendes, en offergawes by een plek gegee naamlik die tempel! Dan is daar van jou verwag om “charitable” te wees. Die basiese fondasie stene van die Jode, is liefdadigheid en barmhartigheid. Daar is ʼn duidelike onderskeid tussen liefdadigheid en jou offers aan God. Die een kan nie sonder die ander nie. Jy kan nie jou offers bring en nie ook barmhartig wees aan almal wat oor jou pad kom nie. Jy kon ook nie barmhartig wees aan die vreemdeling en nie jou offers aan God bring nie. Jy moes beide doen, uit dankbaarheid vir wat God vir jou gee en doen!

Wat is die inherente geestelike vrug van tiende betaal?

Almal van ons beleef die angs en vrees wat oor ʼn mens kom, omdat jy besef jy gaan nie genoeg hê of uitkom met jou geld nie. Die enigste manier om hierdie vrees te konfronteer is deur die geloof. Deur jou tiende te betaal konfronteer jy juis hierdie vrees direk. Jou verklaring van geloof is nie net met jou woorde en belydenis nie maar ook jou dade dat jy volkome op God vertrou. Hy is my bron en nie ʼn mens nie!

Daar is iets geesteliks en heilig omtrent die 1ste tiende, die eerstelinge van ons oes. Jesus was God se beste gawe gegee vir ons. (Joh 3:16; 1 Kor 15:20, 23) Die kerk is die eerstelinge van Jesus se gawe en offer. (Rom 16:5; 1 Kor 16:15; Jak 1:18; 2 Tes 2:13; Rom 8:23). God werk deur die beginsel van die eerste gawe, die eerste offer, die eerste saad in alles wat Hy doen. Adam se eerste sonde bring ʼn vloek op sy hele nageslag. Die perfekte offer en gehoorsaamheid van Christus herstel God se plan en uit Christus kom ʼn nuwe nageslag voort. Ons eerste vrugte van ons inkomste is ʼn profetiese aksie en daad van geloof wat in die Gees gemeet en raakgesien word.

Die volgende punt is moeilik om te verduidelik. Maar sien dit in die gees. Daar vind ʼn geestelike “impartation” plaas wanneer ons, ons tiende en offergawes vir ʼn sekere gemeente gee. In die gees maak jy jouself deel van die openbaring en gewig van die spesifieke gemeente. Ek het dit al self beleef dat jong gelowiges selfs sonder dat hulle die Bybelskool of dienste gereeld bywoon, hulle in die openbaring en salwing van die liggaam begin optree asof hulle al lankal deel is omdat hulle getrou is in hulle bydraes. Hulle sê en doen dinge wat niemand vir hulle al geleer het nie, asof hulle dit inherent weet.

Indien ons nie tiende betaal nie, watse alternatief moet dan gevolg word om vir die gemeente se bedryfsuitgawes te betaal.

Geld moet dan tog van iewers af kom. Diegene wat teen tiende praat, moet dan uiteindelik ʼn alternatief voorstel oor hoe die predikante, werkers, huur, en bedryfsuitgawes van ʼn gemeente betaal moet word. Sommige stel dat die kerk bloot sy uitgawes bekend moet maak en dat mense dan soos hulle gelei voel daarvoor instaan. My kritiek op hierdie voorstel is; waar staan dit in die Bybel? Verder sal die gevolg wees dat net die ryk mense en vermoënde mense die las gaan dra in die gemeente. Wat is geestelik rondom hierdie proses, het iemand gebid en God vertrou sonder om iemand te sê?

Die Jode se alternatief vir tiende is ʼn Sinagoge belasting, waar jy letterlik jou sitplek by die Sinagoge huur per maand/jaar, die voorste sitplekke kos duurder.

ʼn Verdere voorstel wat ek gelees het, is dat predikers eintlik almal voltyds moet werk en soos Paulus ‘n tentmaker bediening hê en nie ʼn las is vir die gemeente moet wees nie. Dit is verseker ʼn moontlikheid; diegene wat dit wel al gedoen het sal vir jou sê wat ʼn swaar las dit op die persoon en uiteindelik die gesin plaas, en dat dit nie volhoubaar is nie. Daar is mense geroep vir dié bediening!

Wat moet die kerk met die tiende doen.

Dit is uiters belangrik dat die kerk wat hierdie tiendes en offergawes ontvang korrek volgens God se plan optree en handel en nie die altaar ontheilig nie.

Die tiende was hoofsaaklik vir Leviete en priesters – Die Christene in die NT het nie hulle tiende betaal nie, want dan moes hulle indirek hulle vyande en vervolgers betaal. Die Jode het Christus verwerp en gekruisig, en die vroeë Christene vervolg. Dit beteken egter nie dat hulle nie bydraes gemaak het nie. Hulle het bydraes versamel vir die in nood, en moes dit weekliks vergader en stoor tot Paulus sou kom en reëlings tref oor hoe dit na Jerusalem sal gaan. (Hand 11:28–30; Rom 15:25–27; 1 Kor 16:1-4) Paulus, Petrus en ander was nie net tentmakers nie, hulle het ook uit die bydraes van die Christene geleef. (2 Kor 11:8–9; Fil 4:15–18; 1 Kor 9:3-6) Die leviete se roepingsopdrag: Laat hulle nou u bepalings aan Jakob leer en u gebooie aan Israel. Hulle sal reukwerk voor U bring en brandoffers op u altaar offer. (Deut 33:10)

Die leviete is die eerstelinge van die 12 stamme wat aan God behoort. In die NT word die hele liggaam en al sy lede as lewende stene opgeroep tot diens en bediening. Daarom is die gebruik van die tiende nie net vir ʼn sekere uitverkose pastor wat al die werk doen en die res van die lede kyk toe nie. Die tiende is vir die liggaam. Dis hoe die liggaam van God in ʼn sekere lokaliteit beweeg en saam God se koninkryk uitbou! Die doel van die geld is nie om ons eie koninkryke te bou nie, ook nie net ons eie gemeente nie. Ons doel is om deur ons tiende en bydraes die geestelike koninkryk van God te bou deur die verkondiging van die evangelie.

Daar is verskillende bedieninge en variasies van bedieninge in die Nuwe Testamentiese kerk. Sommige is geroep om as priesters hulle reg tot ʼn inkomste op te gee en hoofsaaklik vir die Here te werk. Ander is geroep om as konings in die markplein op te tree. Ek glo nie dat die twee bedieninge noodwendig teenoor mekaar staan nie. As jy kan, moet elke bedienaar van God se Woord probeer om van sy of haar inkomste aan te vul deur ʼn beroep van die een of ander aard wat nie te veel van hul tyd opneem nie te beoefen. Ook sodat hulle in tred kan bly met die werklikheid van die beroepswêreld. Die wat in die beroepswêreld staan moet ook leer om te bedien, en God se woord te kan verkondig. Uiteindelik moet ʼn gesonde akkurate gemeente ʼn variasie van bedieninge ondersteun soos nodig.

Ek glo dat ʼn gesonde liggaam waar almal gewig dra en getrou is aan hulle bydraes, niemand iets sal kortkom nie. (Hand 4:32-37) ʼn Liggaam is ʼn lewende organisme wat spontaan en natuurlik aan elke lid voorsien, want elkeen leef en bestaan vir die ander. (we exist for the sake of the body) (1 Kor 12:25) Ek glo verder dat ʼn gemeente wat akkuraat Bybels funksioneer ook sal Netwerk met legitieme organisasies wat deel uitmaak van die liggaam, en as liggaam hierdie organisasies bystaan. Geen gemeente kan net na binne gee, en geseënd wees nie. Ons moet as gemeente uitgee na ander gemeentes en dele van God se liggaam. Omdat die regering nalaat op soveel sosiale gebiede word die druk meer vir die kerk om te help, met ouetehuise, kinderhuise, en die armes. Dis reg so, want dit is immers die roeping van die kerk, wat vir te lank op die regering afgeskuif het.

In die OT is die fokus op die hou van die wet soos ʼn formule. Die fokus in die NT is om deur die Here gelei te wees om te gee. Daarom die geweldige straf vir Ananias en Saffira se leuens teen die Heilige Gees. (Hand 5) Ons kyk baie keer hierdie radikale daad mis in die begin van die handelinge van die Apostels. God was weer besig om die eerste dinge te heilig.

Daar is so baie misbruik in die kerk omdat mense uit óf vrees óf hebsug funksioneer. ‘n Gemeente waar beproefde geloof die grondbasis is beleef nie hierdie probleme nie. Die kerkleiers vra nie vir geld nie, en maak nie ‘n appél op die mense om te móét gee nie. Op geen wyse nie! (2 Kor 9:5-7) “Dan sal dit gereed wees as ’n vrywillige dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie… Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”

Spesiale behoeftes van die gemeente of van die in nood word wel bekend gemaak. (Hand 11:28–30; Rom 15:25–27)

Die gemeente lede maak ook nie hulle behoeftes aan mekaar bekend sonder geloof nie! Geen skimpe, enige vorme van manipulasie word geduld nie. “almal is vry om te vra en ook vry om nee te sê”; (Fil 4:15–18) Die beste manier om te gee is in die geheim. (Mat 6:4) Die apostoliese fonds bestaan vir hierdie doel. Geld of items word deur die apostoliese fonds gehanteer volgens individue se behoefte of in opdrag van die donateur.

Amal gee uit hulle oorvloed wat hulle oor het, of soos die Here lei (Deut 16:17; Spr 3:9; 1 Kor 16:2) Jy kan net gee wat jy het. (Jakob – Gen 28:20-22) Die hoofrede hoekom ons nie skuld moet maak nie, is omdat jy sodoende jou reg op jou geld vir iemand anders gee. Jy kan nie skuld maak en vrylik gee nie!

Wat is my tiende?

Die beginsel is duidelik. Van alles wat jy ontvang, die ekstra ongewone inkomste (Gen 14:20) Abraham het vanuit sy buit vir Melgisedek ʼn tiende gegee. (Gen 14:20)

ʼn Tiende van alles gevra. (Gen 14:20; Gen 28:22; Deut 14:23)

Dit is ‘n opdrag van God en heilig. (Lev 27:30–33; Deut 12:6–7; 2 Kron 31:4–8)

Getrouheid:

Ons is meer getrou om ons Sanlam polisse en versekering te betaal as om die Here se deel te gee. Sien, tiende is ʼn refleksie en getuienis van wie jy werklik vertrou. Dit is belangrik om te sien dat die verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe verbond ʼn verskuiwing is van wet tot geloof, van werke tot gelei deur die Heilige Gees, van offers vir myself tot offers vir die liggaam. Die tempel bestaan nie meer nie, ons verantwoordelikheid is dus om Sy liggaam te versorg, die nuwe organiese lewende tempel.

Baie mense wil hulle tiende en bydraes iewers anders gee. As God regtig vir jou gesê het, is dit reg so. Maar ek glo binne ʼn liggaam word daar besluit watter organisasies ons ondersteun, wie ons help, en ons doen dit saam. Want soos in ʼn kompanjie in die weermag, wat alles saam doen en hulpmiddele en kos deel, elke troep nie sommer net kan besluit om kos uit die kombuis te gaan haal en vir ʼn ander kompanjie te gaan gee nie. Wanneer ons nie saam vir dieselfde goed gee nie, is dit soos ʼn weermag waar iemand ‘rank’ breek en ‘resources’ buite die kamp met ander deel. So neem ons ‘resources’ van die lokale troepe.

Mag die Here ons gedurig reformeer om meer en meer in lyn te kom met Sy Wil en Waarheid Jesus Christus!