Die TOEKOMS Van 'n Gelowige

Wat hou die toekoms vir ons in? Dis ’n vraag wat in hierdie tyd al hoe meer in ons harte opkom. Daar is vandag geen tekort aan doemprofete nie—mense wat voortdurend die einde van die wêreld aankondig.

Die TOEKOMS Van 'n Gelowige

KYK DIE BOODSKAP OP YOUTUBE: Harvester Cederberg

LUISTER DIE BOODSKAP OP SPOTIFY PODGOOI

HOOF SKRIFGEDEELTE

8Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet. 9Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgevang in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.  
11Julle moet hierdie dinge doen omdat julle besef dat die tyd besig is om uit te loop. Dit is dringend tyd om wakker te word, want die tyd van ons finale redding is nou al weer ’n hele ent nader as toe ons gelowig geword het. 12Die nag is byna verby, die dag is so te sê hier.
Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit wat in die donker tuishoort, en ons trek die wapenrusting aan wat pas by ’n lewe in die lig13Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie. 14Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie. (Rom 13:8-14) 

Wat Hou die Toekoms Vir Ons In? 

Dis ’n vraag wat in hierdie tyd al hoe meer in ons harte opkom. Daar is vandag geen tekort aan doemprofete nie—mense wat voortdurend die einde van die wêreld aankondig. Soms, as ons luister na die chaos van die nuus, die verwarring van politieke ontleders, en die morele verval in die samelewing, vul ons harte met angs en onsekerheid. Wat hou die toekoms vir ons in?

Ons leef in ’n wêreld waarin sonde sigbaar toeneem—nie net as abstrakte idees nie, maar as tasbare realiteite: huwelike wat verbrokkel weens wellus en ontrouheid; gesinne wat uitmekaar skeur oor selfsug en leuens en jong mense wat hul lewens verwoes in die najaag van kortstondige plesier.

Hoop in God Se Beloftes

As gelowiges is ons nie altyd gespaar van die pyn nie. Inteendeel, ons word dikwels die teikens van vervolging, verwerping en redelose onreg. Partykeer ly ons selfs onder die gevolge van ander se sonde—’n kind ly onder ’n ouer se keuses, ’n samelewing kreun onder ’n regering wat nie reg laat geskied nie, maar eerder die boosheid verheerlik en die goeie verag.

En dan wil die wêreld ons nog vertel hulle weet wat kom? Die sogenaamde “toekomsvoorspellers” kan nie eers ’n plaaslike verkiesing reg voorspel nie, maar wil namens ons hoop of wanhoop verkoop.

Ek het onlangs na ’n video gekyk van Elon Musk—’n man met biljoene, maar ook met vyande. Van sy Tesla-Motorhandelaar Winkels word aan die brand gesteek en gevandaliseer. Hy word geteiken deur mense wat voel hy verdien dit. En tog—en dit het my getref—staan hy in daardie video met sy span, en met kalmte en oortuiging deel hy ’n visie vir die toekoms. Geen negativiteit. Geen kla nie. Net ’n herinnering aan watter mylpale al behaal is, en wat nog moontlik is.

"Sustainable abundance for all" [1]

Sedert 2003 het Tesla meer as 7 miljoen elektriese voertuie vervaardig, insluitend die Roadster, Model S, X, 3, Y, Semi, en Cybertruck, met 1.789 miljoen in 2024. Ses fabrieke—Fremont, Nevada, Sjanghai, Berlyn, Texas, en New York—kan 2 miljoen voertuie jaarliks maak. Tesla se Model S, 3, en Y kry 5-ster-veiligheidsgraderings, met beseringskoerse onder die gemiddelde. Die Model 3 en Y is topverkopers, met innovasies soos die 4680-battery en 'n 100% hernubare Superlaaier-netwerk teen 2023.

Terwyl ek na hierdie video kyk, dink ek by myself: As ’n wêreldse entrepreneur só kan hoop spreek—hoeveel te meer ons wat die beloftes van God het? 

Lewe in 40 n.C toe Paulus die brief (Romeine) aan die gelowiges skryf het, was nie maklik nie.  Om in Christus te glo, het beteken om teen die stroom van die grootste wêreldryk te swem — met geloof, maar ook met gevaar. Rome, 'n magtige en indrukwekkende metropool — die sentrum van ’n wêreldryk wat strek van Brittanje tot Egipte. Die stad het verswelg in rykdom, sekulêre kultuur en pragtige argitektuur: marmergeboue, tempels vir talle gode, en die eerste bouwerk van wat later die Kolosseum sou word, was besig om die landskap te vorm.

Tog was hierdie prag gebou op die rug van slawe, onderdrukking en sosiale ongelykheid. Vir gelowiges — veral Joodse en pasbekeerde Christene — was dit ’n tyd van intense spanning. Die Romeinse samelewing was deurtrek van afgodery, seksuele losbandigheid en keiserlike verering; Keiser Caligula, wat in 40 n.C. regeer het, het homself as ’n god probeer verklaar en was bekend vir sy wrede en onvoorspelbare optrede. Christene, wat weier om Caesar as here te erken en nie deelgeneem het aan die kulturele feeste en godsdienstige seremonies nie, is beskou as bedreigings vir sosiale orde — vreemdelinge, selfs vyande van die staat. Hulle is dikwels verwerp, vervolg, uit hulle gemeenskappe verban, en soms selfs tereg gestel.

Dit is teen hierdie agtergrond waar Paulus hierdie woorde as bemoediging, maar ook aanmoediging skryf om aan te hou HEILIG en REG te leef vir die verskyning van die DAG VAN DIE HERE! 

God se Ingryping: "Die Dag van die Here"

Die term, “die dag van die Here” is ’n kragtige en deurlopende motief wat dwarsdeur die Bybel loop — van die profete in die Ou Testament tot by die apostels in die Nuwe Testament. Hierdie uitdrukking dui nie op ’n spesifieke kalenderdag nie, maar op ’n beslissende tyd waarin God op bonatuurlike wyse in die wêreldgeskiedenis ingryp.

In die Ou Testament, veral by profete soos Joël, Amos, Jesaja en Sefanja, word die "dag van die Here" beskryf as ’n oordeelsdag wat met donkerheid, rook, oorlog en vrees gepaard gaan. Dit is ’n dag van vergelding teen sonde, afvalligheid en onreg, nie net teen die heidense nasies nie, maar selfs teen Israel self wanneer hulle van God afwyk. Joël 2:11 noem dit “groot en baie vreeslik”, en roep mense op tot bekering en ware aanbidding.

Tog is dit nie net ’n dag van oordeel nie, maar ook van hoop: Maleági 4:2 belowe dat “die son van geregtigheid sal opgaan” oor dié wat God vrees, met genesing onder sy vlerke.

In die Nuwe Testament kry die term ’n nog skerper fokus en word veral gekoppel aan die wederkoms van Jesus Christus. Die “dag van die Here” is die dag waarop Christus terugkeer om die wêreld te oordeel en Sy bruid, die kerk, te verlos. Paulus en Petrus waarsku gelowiges dat hierdie dag onverwags sal kom, soos ’n “dief in die nag” (2 Petrus 3:10; 1 Thessalonisense 5:2), en daarom moet ons waaksaam, nugter en heilig lewe. Dit is nie ’n dag om vir te vrees as jy in Christus is nie, maar dit is beslis ’n dag wat respek en voorbereiding vereis. Vir die goddeloses sal dit ’n dag van skok wees, maar vir die gelowige is dit die vervulling van hoop — die dag van volle verlossing en heerlikheid.

Uiteindelik is die "dag van die Here" beide ’n waarskuwing en ’n belofte: ’n waarskuwing teen traak-my-nie-lewe, en ’n belofte van herstel vir dié wat vasstaan in die geloof. Dit roep elke geslag op tot selfondersoek, geregtigheid en verwagting. Ons leef dus nie in vrees nie, maar in afwagting — soos bruid wat wag op die wederkoms van haar Bruidegom. 

Nou, byna 2000 jaar later, het die Here Jesus Christus nog nie op die wolke verskyn soos voorspel nie — en vir baie lei dit tot twyfel, apatie of selfs spot. Tog bied hierdie Skrifgedeeltes vir ons tydlose ankerpunte wat nie net ons ewige toekoms verseker nie, maar ook lig bring vir hoe ons nou, hier op aarde, moet leef. As ons na die verloop van die menslike geskiedenis kyk, is dit duidelik dat God se oordele op tye oor gemeenskappe en nasies kom — nie as wrede straf nie, maar om reg en geregtigheid te herstel. Die morele pendulum van die wêreld swaai telkens tussen uiterstes: van seksuele losbandigheid en onsedelikheid, tot sosiale fragmentasie, ekonomiese ongelykheid, verwaarlosing van die kwesbares, korrupsie, en swak rentmeesterskap. Wanneer hierdie ongeregtighede oorneem, breek daar dikwels krisisse aan — nie omdat God afwesig is nie, maar juis omdat Hy liefhet, en nie ’n wêreld kan toelaat wat homself tot niet leef nie.

Hierdie oordele herinner ons dat geskiedenis nie doelloos is nie; dit beweeg doelgerig na ’n klimaks — die wederkoms van Christus en die finale herstel van alle dinge. Intussen roep Hy ons op om ligdraers en sout te wees — mense wat vasstaan in hoop, waarheid en heiligheid, terwyl die wêreld wankel.

Die Aksieplan in Praktiese Stappe

Uit Romeine 13:8–14 kry ons nie net ’n oproep tot heiligheid nie, maar ook praktiese riglyne vir hoe gelowiges krisistye, morele verval, en selfs toekomstige oordele kan oorleef en oorwin. 

Paulus gee nie ’n teorie nie, maar ’n lewensplan – en dit is verrassend eenvoudig, radikaal, en werk steeds, al is ons in 2025:

🔶 1. Betaal wat jy verskuldig is – wees GETROU met jou verpligtinge (v.8)

"Betaal alles wat julle verskuldig is..."

Begin by die eenvoudigste plek: wees eerlik, verantwoordelik en getrou – of dit belasting is, skuld, verhoudingsverantwoordelikhede of beloftes. ’n Samelewing in chaos word net erger as mense hul verantwoordelikhede afskeep. Betroubaarheid bou standvastigheid, in jou eie lewe én in die gemeenskap.

🔶 2. LIEFDE is nie opsioneel nie – dis jou voortdurende skuld (v.8–10)

"...die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê."

In tye van krisis word mense geneig om selfgesentreerd te wees, maar Paulus sê liefde is die enigste skuld wat jy nooit klaar betaal nie. Liefde vir jou naaste is nie ’n emosie nie, dit is aksie — en dit vervul al God se wette. Dit beteken jy leef aktief ander-gerig: gee, vergewe, dien, luister, bemoedig.

🔶 3. Word WAKKER – herken die tyd waarin jy leef (v.11)

"Dit is dringend tyd om wakker te word..."

’n Groot krisis het altyd een van twee effekte: dit maak mense wakker, of dit maak hulle nog meer geestelik verslap. Paulus sê: word wakker! Ontwikkel geestelike waaksaamheid. Hou op slaap, hou op verskonings maak. Dis nou die tyd vir egtheid, fokus, en geloof.

🔶 4. Trek die donker klere uit – LOS SONDIGE gewoontes (v.12–13)

"Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit..."

Paulus gebruik die beeld van "vuil klere" – dade en gewoontes wat by die "nag" hoort. Hy noem dit direk:

  • Seksuele losbandigheid
  • Dronkenskap
  • Onenigheid en rusies
  • Afgunstigheid en jaloesie

Krisis is nie die tyd vir godsdiens speletjies nie. Die ware krag lê in ’n suiwer lewe. Elke gelowige moet nou ernstig wees oor heiligheid.

🔶 5. Leef soos mense van die LIG – wees deursigtig en eerbaar (v.13)

"Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan."

Leef só dat jy niks hoef weg te steek nie. As alles oor jou lewe vandag openbaar gemaak word, sal dit die toets deurstaan? In donker tye is eerlike, ligdraende mense soos vuurtorings in ’n storm.

🔶 6. Trek Christus aan – LEEF SOOS HY (v.14)

"Soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus aantrek..."

Dit is die sentrale gedagte van alles: leef vanuit jou identiteit in Christus. Trek Jesus "aan" beteken: Leef soos 'n erfgenaam!! 

  • Dink soos Hy
  • Reageer soos Hy
  • Beskerm jouself met sy geregtigheid
  • Kies doelbewus teen die begeertes van jou vlees

Dit beteken jy vra in elke situasie: 'Hoe is ek die Here se medewerker, om Sy koninkryk te laat kom hier op aarde soos wat die in die hemel is?' 

Krisis gaan aanhou kom. Morele verval gaan toeneem. Maar gelowiges het ’n padkaart, en dit begin nie by vrees of spekulasie oor eindtye nie — dit begin by liefde, heiligheid en wakker wees. As jy hierdie dinge doen, sal jy nie net oorleef nie, jy sal floreer!! 

'n Beter Toekoms Hier en Nou


Wanneer gelowiges hierdie riglyne uit Romeine 13:8–14 begin uitleef, word hulle vanself uiters aantreklik – nie net geestelik nie, maar ook in die praktiese, alledaagse sin: as werknemers, werkgewers en burgers.

In ’n wêreld wat dikwels onbetroubaar, selfgesentreerd en moreel oneerlik is, staan mense wat verantwoordelik is, hul verpligtinge nakom, ander met eerbied en liefde hanteer, waaksaam en nugter leef, en wat nie agteraf is nie, maar eerlik, ordentlik en deursigtig uit. Sulke mense is goud werd in enige besigheidsomgewing – hulle bring stabiliteit, vertroue, en bou spanwerk.

Eienaars wat met Christus se karakter lei, skep werksplekke van geregtigheid en wederkerige persoonlike groei. In tye van krisis soek mense veilige mense om hulle – mense wat nie paniekerig is nie, maar gefokus en geanker. Daarom help hierdie Christelike lewenswyse nie net om geestelik staande te bly nie, maar verskaf ook ’n vorm van fisiese sekuriteit en volhoubaarheid. Mense wat so leef, word makliker aangestel, vertrou, ondersteun en gevolg. In moeilike tye is hulle nie net oorlewendes nie, maar ligdraers en brugbouers na hoop.

19 So let us then definitely aim for and eagerly pursue what makes for harmony and for mutual upbuilding (edification and development) of one another. - Romans 14:19 (AMPC)

 


[1] Elon Musk’s Shocking Predictions