Ferm & Liefdevolle opvoeding? Of Beide!

Ouerskap style kan soms 'n baie kontroversiële onderwerp wees, hoofsaaklik tussen die ouers wat glo in 'n meer ferm benadering teenoor die wat glo in 'n meer sagte fokus. 

Ferm & Liefdevolle opvoeding? Of Beide!

'n Pastorale en Bybelse oorsig van L.R. Knost se Boek Jesus, the Gentle Parent: Gentle Christian Parenting

Ouerskapstyle is dikwels 'n baie omstrede onderwerp, veral tussen dié wat glo in 'n ferm en gestruktureerde benadering en dié wat 'n sagte, liefdevolle fokus voorstaan. Dit is duidelik dat L.R. Knost ’n onverskrokke voorstander is van ’n sagte en liefdevolle ouerskapstyl. Haar benadering plaas die klem op genade, empatie en 'n Jesus-gesentreerde model van ouerskap wat kinders lei met deernis en begrip.

Voordat ons egter verder delf in die debat of ons eie opinies gee, kom ons vind mekaar eers op dieselfde bladsy. Dink aan die volgende inspirerende voorbeeld: Molly Wright, ’n sewejarige dogtertjie, lewer foutloos ’n indrukwekkende toespraak op die bekende TED-platform. Haar selfvertroue, insig en kommunikasievaardighede is iets wat ons vir elke kind begeer. Dit verteenwoordig 'n droom: om kinders groot te maak wat floreer en toegerus is om die lewe en sy onverwagse uitdagings te trotseer.

Hierdie beeld vra egter die vraag: Watter ouerskapstyl lei tot sulke veerkragtige, selfversekerde en empatiese kinders? Hoe vind ons die balans tussen liefdevolle begrip en ferm leiding? [1]

Molly Wright: How every child can thrive by five.

Die kernvraag is: Hoe kan ek my kind opvoed om 'n voorbeeldige leerder te wees – iemand wat krities kan dink, selfstandig hard werk, emosioneel volwasse is, en liefdevol met hul maats, onderwysers en volwassenes omgaan? Hoe help ek hulle om 'n sterk karakter te ontwikkel, koersvas in hul waardes te bly, seker te wees van hul identiteit, en 'n diep, betekenisvolle verhouding met die Here te koester?  

Knost se benadering kan opgesom word in haar eie woorde: 

Model instead of manipulate. Invite instead of intimidate. Support instead of shame. Encourage instead of enrage. Teach instead of threaten. Listen instead of lecture. Help instead of hurt. Parent instead of punish.[2]

Vanuit die staanspoor stem ek volhartig saam met Knost se benadering, omdat sy werklik empaties op die kind ingestel is, en altyd vanuit 'n verhouding (konneksie) oogpunt werk en dink.  Soos John Maxwell altyd sê: Jy kan iemand maak opstaan aan die buitekant, maar as hulle nog sit in hulle binnekant het jy niks reggekry nie! Verder is "shaming" eenvouding swak en selfs bose tipe ouerskap.  God "shame" ons nooit in ons oortredings en sonde nie. Hy los ons ook nie op ons eie met ons foute, angs en onsekerheid nie!  

Maar soos met alle groot waarhede is daar 'n antinomie te sprake. Teenstrydinge waarhede is saam die waarheid.  In ander woorde 'n tipe paradoksale perspektief, waar beide waarhede saam die volle waarheid is! 

Die bekende en algemeen gerespekteerde sielkundige Henry Cloud beskryf "Three Ingredients of Growth" wat onontbeerlik is in elke gelowige se reis na volkome volwassenheid in Christus. [3] 

Waarheid, Genade en Tyd: Die Driehoek van Gebalanseerde Opvoeding

Waarheid, genade en tyd is onlosmaaklik met mekaar verweef. Een kan nie sonder die ander funksioneer nie. As ons slegs op genade fokus – wat liefde, omarming, ondersteuning, validering, begrip en sagte omgee insluit – kan ons kinders geliefd laat voel, maar hulle ook koersloos en innerlik kwesbaar laat. Aan die ander kant, as ons net waarheid beklemtoon – met rigtinggewende standaarde, reëls, wette en 'n klem op prestasies – kan dit ons as as onbuigsaam, hard en ongevoelig maak, en ons kinders voel vasgevang in 'n koue sisteem.  

Die waarheid is egter dat ons beide genade en waarheid nodig het. Soos Paulus in Efesiërs 4:15 skryf: "Laat ons die waarheid in liefde praat." Dit beteken ons moet in elke situasie optree met opregte empatie en liefde, terwyl ons ferm bly oor die waarheid en die gevolge van gedrag. Tog is daar nog 'n kritieke element wat hierdie balans moontlik maak: tyd.  

Kinders is uniek – hulle gaan deur verskillende emosionele, fisiologiese, bewussyn en groei-ontwikkelingsfases, en hulle persoonlikhede verskil. Dit verg van ouers om geduldig en koersvas te wees, terwyl hulle kinders die ruimte en tyd gegee word om te groei. Ons moet met liefde en begrip werk, maar terselfdertyd ferm bly oor ons waardes. Dit vereis ’n oorvloed liefde – “2000 soentjies per dag” – en ook duidelike grense en opwaartse motivering om kinders aan te moedig om hul beste te wees, eerder as om net hul luste en begeertes na te jaag.

Die balans tussen waarheid en genade, oor tyd, is nie net ’n sleutelaspek van goeie ouerskap nie, maar ook ’n refleksie van hoe ons self as volwassenes in verhouding met God groei. Genade gee ons die ruimte om te leer en te probeer; waarheid gee rigting en stabiliteit; en tyd bied die geleentheid om ons volle potensiaal te bereik.

Met liefdevolle empatie versterk ons wat alreeds binne die kind is, met dissipline rig ons op wat nog nie daar is nie!

Jesus: Liefdevolle Teenwoordigheid en Ferm Riglyne

Jesus is die beliggaming van liefde, vriendelikheid en ’n sagte aanraking Geneesheer. Tog is Hy ook streng, ferm, beslis en reguit. Vriendelikheid, empatie of sagmoedigheid (Kindness) is ’n kragtige gawe van die Gees en ’n sleutel tot die transformasie van lewens. Die Afrikaanse woord 'vriendelikheid' doen nie reg aan die ryk betekenis van die woord 'kindness' in engels nie. Ek vertaal dus eerder die woord 'kindness' met empatie of deernis.

Empatie en deernis wys respek en bring vertroosting. Maar liefdevolle empatie alleen is nie genoeg nie; dit moet gebalanseer word met fermheid – konsekwentheid, onwrikbaarheid en regverdigheid. Hierdie balans help ons om liefdevol en regverdig op te tree in elke situasie. Veral wanneer dit kom by gesonde grense stel, wat in belang is van die kind.

Wanneer ons ’n skool vir ons kinders kies, soek ons gewoonlik een met bewese dissipline en goeie orde. Rudolf Dreikurs van die "positivediscipline" beweging beklemtoon die belangrikheid van deernis maar ook streng fermheid in verhoudings.[4] Deur deernis en empatie wys ons respek vir die kind as individu, terwyl fermheid respek vir onsself en die praktiese situasie weerspieël. Outoritêre metodes faal dikwels in liefdevolle sagheid, terwyl toegeeflike metodes fermheid ontbreek. ’n Balans tussen die twee is noodsaaklik vir positiewe dissipline.

Die kuns lê daarin om te weet wanneer om empaties te wees en wanneer om ferm op te tree. Fermheid beteken egter nie doelose straf, prekerige lesings of manipulerende beheer nie. Ware fermheid, gekombineer met liefdevolle deernis is gebaseer op respek vir die kind, jouself en die situasie. Dit gaan nie oor skree of straf nie of gesag afdwing nie, maar oor stabiliteit en konsekwentheid. Streng wees is nie om onvriendelik en wreed te wees nie, maar om duidelike grense en standaarde te handhaaf. Ons moet dus altyd liefdevol, maar ook altyd ferm wees.

Dit is belangrik om probleme op die regte tyd aan te pak. Wanneer mense omgekrap is, tree hul primitiewe brein in werking, wat lei tot konflik of onttrekking. Rasionele denke is nie moontlik in hierdie toestand nie, en ons sê dikwels dinge waaroor ons later spyt is. Daarom is dit beter om eers te kalmeer en die probleem met ’n helder kop aan te pak.

Jesus bied ’n perfekte voorbeeld van hierdie balans tussen deernis en fermheid. Hy was dikwels streng en reguit in Sy optrede, soos in Mattheus 9:30 en 16:23, waar Hy Petrus direk aanspreek en berispe "Rebuke", en in Mattheus 22:18, waar Hy die Fariseërs “geveinsdes” noem. Paulus toon ook hierdie fermheid, soos in Handelinge 13:9-11, waar hy Elymas die towenaar aanspreek, en in Galasiërs 2:13, waar hy Petrus en Barnabas se geveinsdheid uitwys.

6 vlakke van Dissipline: 

Hebreers 12:3-11 gee vir ons 'n baie mooi opsomming van God se opvoeding styl en metodiek:

1. Paráklēsis (Aanmoediging en Troos)

Hierdie woord verwys na die gee van aanmoediging, troos, of bemoediging. Dit kan beteken om hoop en krag in moeilike tye te bied, soos Paulus se prediking in 1 Tessalonisense 2:3. Dit beskryf ook die rol van Barnabas, wat "die seun van troos" genoem word, omdat hy ander bemoedig en versterk het (Handelinge 4:36). In die Skrif kontrasteer dit lyding en beproewing, en herinner ons aan die vreugde en vrede wat God bring, soos in 2 Korintiërs 1:3-7.

2. Paideía (Opvoeding en Dissipline)

Oorspronklik het hierdie woord verwys na die opvoeding van kinders, maar dit het later ook insluiting van korreksie en dissipline, gerig op groei, beteken. Dit gaan oor onderrig deur leiding en soms teregwysing om iemand te help om in karakter en geloof te groei. Byvoorbeeld, Efesiërs 6:4 verwys na die tipe dissipline wat die Here goedkeur—liefdevolle maar ferm leiding. Hebreërs 12:5-11 beklemtoon hoe God se dissipline nie straf is nie, maar 'n manier om ons sterker en beter te maak.

3. Elégchō (Teregwysing en Oortuiging)

Hierdie woord beteken om iemand te wys waar hulle verkeerd is, om hulle reg te help, of te berispe. Dit kan beteken om iemand te oortuig van hul foute (Johannes 8:9) of om hulle te help om die waarheid te sien en hul gedrag te verander (Titus 1:13). Soms beteken dit ook om verborge dinge aan die lig te bring (Efesiërs 5:11-13).

4. Paideúō (Onderrig en Korreksie)

Dit gaan oor die onderrig of begeleiding, veral van kinders, maar dit geld ook vir morele en geestelike groei. Dit sluit in om te korrigeer of selfs te tugtig om iemand te help om volgens die waarheid te leef. Hebreërs 12:6 beskryf God se dissipline as 'n daad van liefde wat ons vorm vir Sy doelwitte.

  1. Epitimáō (Berispe of Waarskuwing)

Hierdie woord behels om iemand te berispe of streng te waarsku. Dit kan gebruik word om iemand se gedrag reg te stel of selfs om magte soos die wind en golwe te beveel (Markus 4:39). Dit impliseer dikwels dringendheid en gesag, maar is nie noodwendig strafgerig nie.

  1. Mastigóō (Kastyding of Korreksie)

Hierdie term verwys dikwels na fisiese straf, soos geseling, maar in 'n geestelike sin beskryf dit God se korreksie vir ons uiteindelike beswil. Hebreërs 12:6 verduidelik dat God se dissipline nie bedoel is om skade te doen nie, maar om ons deur beproewings te laat groei.

In te veel gevalle wil ouers begin by vlak 6 van 'n pakslae, terwyl die terapeutiese pad van vlak 1 - 5 nooit gevolg is nie.

Opsomming en Toepassing  

Hierdie ses woord betekenisse beklemtoon die balans tussen leiding, korreksie en aanmoediging in die Skrif. Of God ons nou troos, ons paaie regstel, of ons berispe, Sy optrede is altyd gegrond in liefde en gerig op ons groei. Net soos 'n liefdevolle ouer 'n kind dissiplineer vir hul eie beswil, gebruik God dissipline en aanmoediging om ons te vorm in beter mense en ons nader aan Sy waarheid en doel te bring.

Dit sluit alles in wat L.R. Knost in haar boek leer, maar erken ook dat daar uitsonderlike gevalle is waar doelbewuste dissipline nodig mag wees. Hierdie tipe dissipline is egter nie die gevolg van waar 'n ouer hulle humeur verloor, en die fokus eintlik die ouer se ego, gerief, aansien of vooroordele beklemtoon nie. Ware dissipline is 'n geleentheid vir groei, waar die kind self insien en erken dat hulle verkeerd opgetree het. Dissipline is om 'n kind te beweeg van punt A tot punt B.

Dit gaan oor 'n proses waar die kind leer om verantwoordelikheid te neem vir hul foute, die gevolge daarvan te hanteer, en daadwerklik regstellende stappe te doen. Hierdie vermoë om met verantwoordelikheid en volwassenheid uitdagings in die lewe te trotseer, is een van die belangrikste waardes wat ons in ons kinders wil ontwikkel. Dissipline, wanneer dit reg toegepas word, is dus nie 'n straf nie, maar eerder ’n leerskool vir karakterbou en selfstandigheid.

Wysheid

Wysheid is om die regte ding, op die regte tyd, met die regte persoon, op die regte manier te doen. Dit impliseer dat ons as ouers verstandig, nugter en ingelig is oor hulle kinders se individuele vordering in hulle ontwikkelings spektrum. Elke kind leer, en ontwikkel anders.  KEN JOU KIND. Vind uit wat beweeg hierdie spesifieke kind die beste van A tot B.

Dis hoekom ons die Heilige Gees se leiding só baie nodig het.  Daarom bid ons vir ons kinders. Ons vra ons vriendekring en grootouers om ook te bid vir ons kind, en met deernis, liefde en opregte belangstelling hulle ons volle aandag te gee.  Wetende dat ons as ouers ook net soveel kan doen, dan moet ons die Here vertrou!   


Jesus, the Gentle Parent: Gentle Christian Parenting (Little Hearts Handbooks) - Kindle edition by Knost, L.R.. Religion & Spirituality Kindle eBooks @ Amazon.com.
Jesus, the Gentle Parent: Gentle Christian Parenting (Little Hearts Handbooks) - Kindle edition by Knost, L.R.. Religion & Spirituality Kindle eBooks @ Amazon.com.

[1] "What if I was to tell you that a game of peek-a-boo could change the world?" asks seven-year-old Molly Wright, one of the youngest-ever TED speakers. Breaking down the research-backed ways parents and caregivers can support children's healthy brain development, Wright highlights the benefits of play on lifelong learning, behavior and well-being, sharing effective strategies to help all kids thrive by the age of five. She's joined onstage by one-year-old Ari and his dad, Amarjot, who help illustrate her big ideas about brain science. (This TED Talk was produced in collaboration with Minderoo Foundation as an educational tool for parents and caregivers around the world and is supported by UNICEF.) https://youtu.be/aISXCw0Pi94

[2] Knost, L.R.. Jesus, the Gentle Parent: Gentle Christian Parenting (Little Hearts Handbooks) (pp. 52-53). Little Hearts Books, LLC. Kindle Edition. 

[3] Cloud, Henry (2009). Changes That Heal: Four Practical Steps to a Happier, Healthier You . Zondervan. Kindle Edition.

[4] https://www.positivediscipline.com