Herdefinieer ‘WERK’ volgens Bybelse Grondslag

Herdefinieer ‘WERK’ volgens Bybelse Grondslag

Hoe het die wêreld gelyk waarin Jesus Hom bevind het? Wie was die mense wat in sy gehore gesit het? 

Die Romeine het die Wêreld regeer, deur militêre magsoorname. Hulle stel een geldeenheid in, banke, en hoë belastings. Hulle ontwikkel infrastruktuur, paaie, hawens, indrukwekkende poorte, en pilaargange, arenas, markpleine waarvan daar van Engeland tot Europa vandag nog sigbare oorblyfsels is.  Met om en by 50 – 70 Miljoen mense rondom die Mediterreense See, is Rome die hoofstad, Galilea en Judea het om en by 600000 inwoners is een van die provinsies wat deur Herodus geregeer word.  

Die wêreld is deur ryk en magtige families beheer. As jy nie in daardie familie gebore is nie, is dit jou lot, jy kan nie jouself opwerk nie. Die gewone mens het nie ‘n stem of invloed nie. Daar word nie gestem oor besluite nie. Die klein Joodse groepering, het hulle reg tot selfbeskikking verloor toe Julius Caesar in 40nC deur Militêre gesag die opper hand kry. Julius word deur sy eie senaat vermoor, en Augustus word die nuwe prokonsul, wat deur ‘n fyn balans van militêre en ekonomiese mag die wêreld beheer. 

Die vergrieksing of hellenisme van die Wêreld is op sy kruin, waardeur die Griekse wysbegeerte, taal, kuns, wiskunde, wetenskap die kultuur en wêreldbeskouing van die wêreld bepaal.  

Die ekonomiese demografie van die mense in Galilea lyk soos volg. 

1. Keiserlike Elite: vorm 0.04% van die populasie. 

2. Streek-of-Distrik elite: 1%): Sommige Militêre regeerders, en afgetrede offisiere. Soos die romeinse offisier. (Luk 7:1-10) 

3. Munisipale Elite 1.76%: Welgestelde hoofde en bestuurders van koningshuise, soos Johanna die vrou van Gusa, ‘n hoë amptenaar van Herodes. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg (Luk 8:3) 

4. Handelaars en ambagsmanne, belasting gaarders, soldate: ongeveer 7% van die bevolking

5. Gereelde loonverdieners, ambagsmanne, groot winkeleienaars, vissermanne: beraamde 22% van die bevolking. 

6. Kleinboerfamilies, arbeiders (geskoolde en ongeskoolde), ambagsmanne (veral dié wat in diens van ander is), loonarbeiders. Onder oorlewing armoede merk: 40% van die bevolking. 

7. Armes: 28 % van die samelewing. Onverbonde weduwees, weeskinders, bedelaars, gestremdes, ongeskoolde dagarbeiders en gevangenes.[1]

Volgens beramings het 9 uit 10 persone naby die bestaansvlak of onder dit gewoon. Daar was geen middelklas nie. Die staat het nie veel kommer vir die armes getoon nie. Die vermoë om ‘n mens se sosiale status te verbeter, was gebaseer op met wie jy assosieer. Geen persoon kon op hulle eie, van klas verander en opskuif in die sosiale leer nie. Daarom Herodus se gesteldheid om die Keiser in Rome te ondersteun, en te alle tye sy magbasis te behou deur militêre geweld, interne vennootskappe met die Sanhedrin en geestelike leiers van die tyd. 

Daar was, vanuit ’n sosio-ekonomiese oogpunt bekyk, eintlik net twee “klasse” mense: die klein groepie aristokrate (sowat 2 na 3 persent van die totale bevolking) en die groot massa kleinboere (sowat 80- 85 persent van die bevolking). ’n Kleinerige groepie mense (± 8 persent) kan ons beskryf as die “ondersteunersklas” – dit is nou mense soos priesters, skrifgeleerdes, handelaars, belastinggaarders, weermagoffisiere, en so meer. 

Die grootste dilemma was egter dat kleinboere vasgevang was in ’n onbreekbare siklus van arbeid, belasting en skuld. Die aristokratiese en hiërargiese waardestelsel van die destydse kulture (en spesifiek dan van die situasie in Romeinse Palestina) het noodwendig veroorsaak dat klein-boere geëksploiteer moes word – dikwels tot op die uiterste van hulle vermoëns. Hierdie mense was oorwegend moeg en honger, en al te bewus van die onontkombaarheid van skuld, van die voortdurende druk om te werk vir die voordeel van ander. Die algehele gemoed van die mense was een van magteloosheid, en vrees.  

Die eerste-eeuse Galilea was dus hoofsaaklik landboukundig, met ‘n geringe visserybedryf, en die bevolking daarvan was ekonomies grootliks afhanklik van die welgestelde elite, waarvan die meerderheid in die enigste 3 stede Jerusalem, Sepphoris en Tiberias gewoon het, waarvan Jerusalem die grootste, die godsdienstige en wetgewende hoofstad. Die elite het geleef deur die landelike bevolking van Galilië te belas, sonder ‘n direkte verband met die gewone mense. Hulle agente het belasting verhaal. Soms het die inwoners die geleentheid gehad om self in die plaaslike gemeentes, die sinagoges, kleiner wettige sake self te hanteer. [2]

Handelaars sal onmiddellik herkenbaar wees deur die simbole wat hulle gedra het. Skrynwerkers het houtspaanders agter hul ore vasgesit, naalde in hul tunieke vasgemaak, en kleremakers het gekleurde vodde gedra.

Die armoede in Galilea word ook weerspieël deur die feit dat byna geen oorblyfsels van opbergingsgeboue vir graan of ander produkte by argeologiese opgrawings in Galilea gevind is nie en hoegenaamd geen winkels gehad het nie. Die Galileërs het skynbaar alles wat hulle geproduseer het, verteer. Na die huur, belasting, leningsvrystelling en rente was daar eenvoudig niks om mee te handel nie.

Hedendaagse lande met ‘n BBP per capita gelykstaande aan die Romeinse Ryk in Jesus se tyd, sluit Tsjad, Haïti, Madagaskar, Malawi, Niger, Sierra Leone, Tanzanië en Zimbabwe in.[3]

Bybelse Ekonomiese Uitkoms:

Daar is 500 teksverse oor gebed, minder as 500 oor geloof, maar 2350 verse oor geld en besittings; in die 4 Evangelies handel een uit elke tien verse (288) direk oor geld; 16 van die 38 gelykenisse wat Jesus vertel het, handel oor die regte aanwending van geld en besittings. Naas die Koninkryk van God, is die “onderwerp” waaroor Jesus die meeste gepraat het, dié van geld en besittings. In die Bybel is geld en die regte gebruik daarvan baie belangrik.

Die grootste frustrasie van die mense was, dat die geestelike leiers van hulle tyd, kop in een mus was met die regering van die dag. Die fariseërs wat probeer het om die volk terug te bring na hulle Bybelse wettiese oorsprong het nog meer wette en reëls voorgestel en af geforseer, in die naam van vrymaking! Hulle het geglo, deur al hierdie wette getrou na te kom, sal die Here die volk verlos. 

Een van die aspekte wat die Evangelie van Jesus Christus onderskei van al onder gelowe en spiritualiteit is die manier hoe Jesus handel met die realiteite van die lewe: Jesus bedien die grootste deel van sy tyd, in die kleinere dorpies, en vermy die stede soos Tiberius en Sepphoris. Hy woon selfs eerder tydens sy besoeke aan Jerusalem in Bethanie ‘n klein dorpie buite Jerusalem. 

Kom ons lees nou hierdie gedeelte, waar die inhoud van Johannes se prediking in een paragraaf opgesom word. 

Lees: Luk 3:7-15 

  1. Ware bekering met gepaardgaande vrug.

Die realiteit is: as mense hulle nie gaan bekeer van hulle verkeerde wee, gaan niks verander nie. Owerspel het verwoestende gevolge vir almal, buiten die twee skuldiges wat dit nie raaksien nie.  Drankmisbruik het ook negatiewe nagevolge, maar die een wat hierin vasgevang is, sien dit nie. Godsdienspleging het gevolge!  Ongehoorsaamheid het gevolge! Dink net hoe uitgelewer en magteloos kwaad voel jy, as iemand jou besittings gesteel het. Sonde het gevolge! Dit bring verwoesting en pyn! Daarom Johannes se oproep. Bekeer julle! Julle gaan nie die oordeel van God vryspring nie!  So het ons ook in SA, ‘n “Transformational Revival en Moral Regeneration” nodig. 

Nou is die vraag: Wat as mense hulle bekeer het? God bring die hartsverandering, werk die vrug van die Gees in ons as ons nuwe natuur, vul ons met Sy Gees en krag. Wat het ons dan nou nog nodig? Toe die rykes, tollenaars en soldate hom vra: “Wat moet ons nou doen?” Is Johannes se antwoord verrassend. Hy gee hulle duidelike instruksies om die Lewe van Christus te demonstreer in die manier hoe hulle gee, en reg doen! 

2) Ewige Nou is die nuwe permanent.

God se koninkryk leefstyl en bedryfstelsel transendeer tyd, en tydelikheid van politiek en ekonomie.  Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek (Joh 14:1-2) Die koninkryk van God is onwankelbaar, terwyl alles wat geskud kan word, geskud word. (Heb 12:28-29) Johannes se antwoorde is betekenisvol want sy opdrag aan hierdie mense is om nie van beroep te verander nie. Hulle hoef ook nie iets geestelik te gaan doen, om God se guns te verwerf nie. Hulle hoef geen godsdiens rituele te gaan uitvoer nie. Hulle moet bloot soos Christus gee wat hulle in oorvloed het, en nie geld op oneerlike manier verdien nie.  

3) Ware familie van koninkryksburgers, in denke en sinne.

Familie besighede is volgens verskeie ekonomiese studies, die mees volhoubare manier om jou welvaart te groei.  Onthou rykes, tollenaars en soldate word deur die meeste mense van daardie tyd met negatiwiteit bejeën. Hier sluit Johannes hulle in, God se familie deur te gaan en reg te doen! Vandag nog kan ons ‘n lokale kollektief verkry in ons gemeenskappe, wanneer almal begin gee, en reg doen.  Hierdie opdrag transendeer 2000 jaar se geskiedenis, en menslike ontwikkeling, en is vandag nog steeds net so relevant as toe die woorde uit Johannes se mond gekom het. Wanneer versuur ‘n vennootskap? Wanneer een nie gelyk sy kant bring nie. Wanneer baklei kinders wanneer hulle ‘n taak saam moet verrig? Wanneer een nie sy kant bring nie, en lyf wegsteek.  So het ons nodig as ‘n samelewing om almal ons kant te bring! 

4) Goddelike karakter Bybelse monetêre geldeenheid. 

Dit is net in Christus waar vertroue herstel kan word, en verdien word deur ‘n lewe toegewy aan Hom. As geld die oorwegende motief is, versuur dit die verhoudinge en verwagtinge. Die geld eenheid waarin God die wêreld regeer is goddelike karakter.  Wanneer ons werk met integriteit, presiesheid, kundigheid, en uitnemendheid maak dit vir ons deure oop. Word ‘n spesialis op jou gebied. Doen wat jy doen met eerlikheid, insig en wysheid, sonder om iemand ooit te na te kom, en jy sal voorspoedig wees.  

5) Behou jou posisie en gebruik jou invloed.

Die feit dat die persone teruggestuur word in hulle betrokke beroepe, is vreemd. Tollenaars neem mense se hard verdiende geld vir belasting. Soldate werk vir die Romeine? Is dit die werk van ‘n Christen, om vir ‘n heidense regeerder wet en orde te handhaaf? Ja dit is presies wat Johannes benadruk, behou jou posisie, maar gebruik jou invloed om reg te doen. 

“A slack hand causes poverty, but the hand of the diligent makes rich” (Prov 10:4)

Werk is bevredigend wanneer jy goed daarin is, jy skeppend is en iets doen goed. 

God het die aarde geskep en gesê dit is goed. Die 3rde dag toe God grond en water skei… Dis is goed! Die wêreld toon onbeperkte begeertes, maar met beperkte hulpbronne. Ons kan alleenlik ons begeertes vervul deur goeie rentmeesters te wees van die hulpbronne wat God ons gegee het in die skepping. Ons kan alleenlik ons drome vervul, deur hard te werk. 

Dis interessant dat die goud in Genesis ook deur God goed genoem is: And the gold of that land is good: there is bdellium and the onyx stone. (Gen 1:12)  Good: “An adjective meaning good, well-pleasing, fruitful, morally correct, proper, convenient.” 

Die gelykenisse van die ponde en talente versterk ook die gedagte van werk, vermeerdering van wat jy ontvang deur daarmee te woeker. Die antwoord vir ‘n gesonde mensdom, is wanneer almal werk en produktief is. Ons moet herbesin oor hoe ons dink oor werk. Werk is goed. Werk is God se voorsiening aan die mens. Werk as dit Bybels reg gedoen word, volgens God se ritme van elke 7de dag rus, is vervullend. 


[1] Häkkinen, S. (2016). Poverty in the first-century Galilee. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72(4).

[2] Lausanne Movement. (2019). Wealth Creation: Biblical Views and Perspectives – Lausanne Movement. [online] Available at: https://www.lausanne.org/content/wealth-creation-biblical-views-perspectives [Accessed 10 Nov. 2019].

[3] Based on data published in Groningen Growth and Development Centre, ‘The Maddison-Project,’ Accessed August 30, 2017, http://www.ggdc.net/maddison/maddison-project/home.htm, 2013 version.