Herondek die besondere waarde van die HUWELIK Seremonie.

Ontdek die antieke besondere betekenisvolle waarde van die publieke huwelikseremonie waar paartjies trou aan mekaar beloof.

Herondek die besondere waarde van die HUWELIK Seremonie.

Die huwelik is veel meer as om vas met iemand uit te gaan – dit is ’n heilige verbond, ’n sielverbinding wat deur God ingestel is en diep wortels het in die mensdom se geskiedenis. Hierdie verbintenis dien as die kern van die samelewing en die basis waarop gesinne, gemeenskappe, en nasies gebou is. Dink aan die huwelik soos ’n boom: sy wortels diep geplant in die ryk grond van liefde, respek, wederkerige omgee, lojaliteit en eerbied wat sy takke reik na die hemel, sterk en stewig deur die storms en seisoene van die lewe. Sonder die wortels – sonder die heilige verbond verbintenis – sou die boom maklik uitgepluk word by die eerste teken van moeilikheid.

Verbondsluiting 

Daarom kan huwelikstrou nie net as 'n verhouding gesien word nie, mens het talle verskillende verhoudinge met ouers, vriende, kennisse, en selfs diere en karre.  Die woord verhouding impliseer bloot daar is 'n soort verbintenis.  Die Bybel gebruik 'n baie sterker woord om die Huwelik op te bou - verbond.  

Die antieke verbondsritueel, soos dit in die Bybel en ou kulture gesien word, behels dikwels die slag van 'n dier as 'n simboliese handeling van verbintenis en onomkeerbare belofte. Hierdie gebruik simboliseer ’n lewenslange en permanente ooreenkoms. Wanneer twee partye ’n verbond aangaan, word ’n dier in twee gesny, en die deelnemers stap tussen die helftes deur. Dit beeld uit dat, net soos die dood van die dier onomkeerbaar is, so moet die verbond wees – dit is ’n belofte wat jy nie later KAN verander of onttrek nie. Dis nie 'n kwessie van ek belowe ek GAAN jou nooit skei nie, eerder ek KAN jou nooit skei nie.  

Die simboliek van die dood van die dier herinner elke party aan die erns van die belofte. Dit dien as ’n visuele voorstelling dat, indien iemand die verbond verbreek, hulle dieselfde lot as die dier sal moet ervaar – die beëindiging van lewe en bestaan soos hulle dit ken. Die boodskap is duidelik: net soos die dier permanent dood is, is hierdie verbond permanent, en om dit te verbreek is om die hele basis van die ooreenkoms te vernietig.

Maagdelikheid 

In die antieke Joodse tradisie is die huwelik voleindig deur 'n heilige en simboliese gebeurtenis wat in 'n private tent plaasgevind het, waar die bruidegom en bruid hulle verbintenis aan mekaar fisies bevestig het. Die bloed wat gevind is na hulle intiem was is die teken van die bruid se maagdelikheid.  Die paartjie het dan die doek as simboliese bevestiging van die nuwe verbond tussen die twee families opgelig, ter getuie van hulle verbondsverbintenis. (Deuteronomium 22:13-21) Soos in ander verbondsrituele in die Bybel, verteenwoordig hierdie bloed die toewyding en trou van beide partye aan die verbond, en is dit 'n teken dat die huweliksband nou deur God bevestig is. Sien die bogenoemde skrifgedeelte as maagdelikheid nie bewys kon word nie! 

Ons is dankbaar dat hierdie gebruik nie meer vandag van toepassing is nie, maar moet met diep waardering die onherroeplikheid en erns van ons belofte voor God en ander verstaan en begryp. 

Bybelse En Geestelike Grondslag 

In die Bybel sien ons dat God self die eerste huwelik ingestel het, tussen Adam en Eva, as 'n model van samehorigheid en lojaliteit, later weer bekragtig deur Jesus. (Genesis 2:18-24; Matteus 19:4-6) Dit is 'n verhouding wat die karakter en liefde van Christus vir Sy kerk reflekteer – 'n model voorbeeld van opoffering en onwrikbare toewyding. Hierdie heilige verbond is soos 'n rots aan die strand, wat, selfs wanneer golwe en getye daarteen slaan, vas bly staan. ’n Huwelik wat in God geanker is, bly sterk deur die uitdagings van die lewe, want dit rus nie net op die mens se eie wil nie, maar op 'n groter en heilige fondasie.  Dikwels word hierdie beeld van standvastigheid verduidelik aan die hand van 'n driehoek, die man en vrou vorm die onderste linker en regte hoek van die driehoek, God is die toppunt.  Wanneer die huwelikspaar nader aan die Here beweeg, beweeg hulle ook outomaties nader aan mekaar. 

Verder sien die Bybel die huwelik as 'n teenmiddel teen seksuele promiskuïteit, ontrouheid, en gevolglike geslagsiektes.  (1 Cor 7:1-5) 'n Gesonde gemaklike wederkerige-plesier-verskaf-van-die-ander seksualiteit is soos 'n barometer van die vlak van intimiteit in die huwelik.  Paartjies behoort gereeld intiem te verkeer, en saam seksueel te groei in toenadering vir mekaar.  Ons is gees, siel en liggaam een, wanneer ons in ons gedagtes ontrou is aan ons maat, sal dit in die fisiese opgemerk word.  Daarom behels die Bybelse verstaan van seksualiteit, eerstens 'n hart lojaliteit en openhartigheid om nie aanstoot te neem nie, oortredings te erken, mekaar te vergewe, en ons eenheid te verdedig en te behou te alle tye. (Eph 4:1-5) 

Die geestelike aspek van die huwelik in die Christendom simboliseer eenheid, liefde en opoffering, en weerspieël die verhouding tussen Christus en die Kerk. (Eph 5:21-33) Huwelik, en later kinder stroop 'n mens van selfgerigte, ego-sentriese gedrag en denke.  In die huwelik leer ons om eers te gee, sonder om 'n ontvangs te verwag.  

Soos ons in die huwelik al hoe meer selfloos word, bied die huwelik egter ook 'n toegewyde lewensmaat wat jou ondersteun, aanmoedig en versterk in moeilike tye.   (Eccl 4:9-12). Hierdie saamwees, en saam werk is uiteindelik die beloning wat albei geniet om tog hulle ideale en drome te verwesenlik.  Wie wil tog nie sy of haar maat help om 'n droom te bereik nie.  Ons doen dit oor 'n leeftyd telkens vir mekaar.  

God haat egskeiding omdat verraad die grootste pyniging is wat 'n mens emosioneel kan  deurmaak.  (Mal 2:13-16)  In Dante se Divina Commedia, is die laagste vlak van die hel – ook bekend as die nege laag – die plek van verraad, wat hy Judecca noem, na Judas Iskariot. Hierdie vlak word voorbehou vir diegene wat die grootste vorm van verraad gepleeg het: die verraaiers van vertroue, vriendskap, familie, en – die ergste – God self.

Hier in die laagste hel, word verraad as die ergste sonde beskou omdat dit die mees intieme band verbreek en die diepste vertroue skend.  Vir Dante is die laagste vlak van die hel nie 'n plek van uiterlike pyn nie, maar eerder van totale isolasie en ongenaakbaarheid, 'n plek waar verraad geen vergifnis, geen warmte, en geen vryheid kan vind nie – die finale en totale afsondering van die liefde en genade van God.

Daarenteen sien die Bybel die huwelik as die saamsmelting van twee siele, wat 'n emosionele en geestelike eenheid skep wat beide vennote se lewens verryk, wat dieselfde eenheid wat in die Godheid as drie-eenheid bestaan nastreef.  Oor tyd groei mens ten spyte van ons soms teenoorgestelde persoonlikhede 'n nuttige balans, waar die ander se sterktes my swakheid aanvul.  

Hierdie eenwording kan mooi gesimboliseer word deur twee bome wat langs mekaar geplant word, en wie se takke en stamme in mekaar verstrengel raak.  Of soos sommige paartjies doen tydens die huwelikseremonie, die sand van hulle onderskeie vorige tuistes in een houer kom gooi.  Die sand kan nooit weer geskei word nie.  

Hierdie verbondsluiting word vandag deur 'n publieke seremonie gesimboliseer deur die huweliksbeloftes, die gee van ringe, en die ouers wat die paartjie kom seën en hulle laat gaan om met mekaar een te word.  Hierdie simbole en handeling is 'n pragtige heenwysing na hierdie eeue oue tradisie van heilige huwelik trou om trou aan mekaar te belowe in die publiek.  In die Bybelse tyd is almal genooi.  Want die paartjie basuin as te ware hulle liefde en toewyding aan mekaar uit vir alles en almal wat leef, die hemel en die sterre! "jy is die een wat ek kies, en oor en oor sal bly kies tot die dood ons sal skei" 

Antropologiese En Sosiale Waarde

Die mens is van nature ’n sosiale wese, geskape om in gemeenskap en verhouding te lewe. Die huwelik is die hoeksteen van 'n gesonde gemeenskap. Kyk na die Joodse gemeenskap deur die eeue: selfs in die mees haglike omstandighede – soos in die ghetto’s tydens die Holocaust – het hulle steeds hul huwelike gevier en die familie-eenheid beskerm. Hulle het geweet dat die verbintenis tussen man en vrou iets is wat nie maklik gebreek moet word nie, iets wat hulle kulturele identiteit en toekoms verseker. Hierdie verbintenis skep 'n veilige omgewing vir kinders en ’n plek waar waardes en tradisies deurgegee kan word. 

’n Huwelik is nie net ’n private saak nie, maar iets wat die gemeenskap bou en bevorder.  Sonder die fondasie van 'n gesonde huwelik, kan 'n gesin nie floreer nie.  Kinders benodig beide ouers se konstante, omgee en input in hulle lewens.   Die huwelik word gesien as 'n ideale omgewing vir kinderopvoeding, wat 'n stabiele basis vir gesinslewe bied. 

Dit is ook so dat getroude paartjies se aansien verhoog onder hulle maats. Die huwelik word gesien as 'n vorm van sosiale status.  Die huwelik brei dikwels iemand se sosiale kring uit, en verbind paartjies aan groter gemeenskappe, insluitend uitgebreide familie en vriende.  

Dit is uiteindelik nie net twee mense wat nader aan mekaar beweeg in liefde en ondersteuning vir mekaar nie, maar ook twee families.  Daarom is dit belangrik om 'n lewensmaat te kies, met wie se familie jy ook aanklank vind, asook jou ouers en boeties en sussies.  Want die twee families is nou saamgebind in versorging en ondersteuning van die nuwe gesin, veral as hulle kinders het.  Dan word die oupa en ouma rolle onontbeerlik.  

Neurologiese En Sielkundige Aspekte  

Navorsing toon dat diep en stabiele verhoudings ons brein en ons hele liggaam positief beïnvloed. Wanneer jy met iemand trou, help dit jou om 'n soort sielkundige "anker" te kry – 'n veilige plek waar jy emosioneel en geestelik kan rus. Dit is soos 'n huis in die storm; ’n plek waar jy weet jy is aanvaar en geliefd, al die wêreld om jou verander. Huweliksverbintenis het ook ’n kalmerende uitwerking op die brein, wat spanning en angs kan verminder. Deur die huwelik ontvang jy iemand wat jou ondersteuning bied en by wie jy ten volle jouself kan wees – 'n noodsaaklike aspek van menslike geluk en gesondheid. 

Die huwelik kan ook 'n mens se sin van identiteit en selfwaarde verhoog, in die vervulling van die rolle van eggenoot en ouer.  Hierdie is waardevolle rolle in die ontwikkeling siklus van die lewe.  

Getroude paartjies werk dikwels ook saam aan gedeelde lewensdoelwitte, wat 'n gevoel van rigting, samewerking en wedersydse ondersteuning bied.

Die huwelik skep 'n ruimte vir 'n hegte vertrouensverhouding wat 'n diep menslike behoefte aan verbondenheid en behoort vervul. Hierdie diepte van behoort transendeer materiële besittings, en vermoëns soos veral gesien kan word wanneer die paartjie op hulle oudag op mekaar aangewese is.  

Wetlike En Finansiële Voordele

Die huwelik bring ook sekere wetlike en finansiële voordele mee wat vir die paartjie sekuriteit en stabiliteit bied. Trou is nie net ’n emosionele verbintenis nie, maar ook ’n wetlike een wat beskerming bied, veral in moeilike tye. Dink aan dit soos 'n skip wat geregistreer is en volle beskerming geniet in stormwater, teenoor 'n los vlot wat rond dryf. In die huwelik is daar finansiële sekuriteit, 'n gesamentlike bou aan die toekoms, en 'n plan vir nalatenskap – dinge wat 'n stabiliteit skep waaruit kinders en gesinne direk voordeel trek.  

Omdat die huwelik ook wettiglik volgens die landswette voltrek word stel die huwelik riglyne vir bate verdeling en verantwoordelikhede as die huwelik sou eindig, wat duidelikheid en voorkoming van konflik kan bied.  Verder sien die wet hierdie huwelik as 'n nuwe wettige eenheid, waar die paartjie selfs skuld saam kan aangaan, korting op versekering en mediese planne bekom.  Wanneer die een party iets oorkom, word die eggenoot altyd eerste verwittig.  Alle toekomstige kontrakte moet dan beslis word of hulle binne of buite gemeenskap van goedere getroud is.  Al hierdie wettige regulasies bied beskerming vir beide partye.  

Vandag se Uitdaging: ’n Moderniteit Wat Maklik Breek

Ongelukkig leef ons in ’n wêreld wat die huwelik gereduseer word tot net ’n gemaklike opsie wat jou persoonlike behoeftes moet vervul, eerder as ’n lewenslange belofte van toewyding en opoffering. Die moderne samelewing beklemtoon gerief, individualiteit, en selfverbetering – wat dikwels in konflik is met die diep gewortelde beginsels van die huwelik. In plaas daarvan om die huwelik te sien as ’n vrugbare wingerd wat met sorg, arbeid en opoffering versorg moet word, word dit eerder as ’n houer gesien wat leeg gelaat kan word wanneer die inhoud nie meer soet is nie. Maar soos 'n boom wat jare neem om sy sterk wortels te ontwikkel, vereis 'n goeie huwelik volharding en 'n verbintenis wat die moderne "mikrogolf-mentaliteit" van kitsoplossings te bowe gaan.

’n Huwelik wat die Toekoms Vorm

Wanneer ons kies om ons huwelike ernstig op te neem, besluit ons om nie net vir onsself te leef nie, maar ook vir toekomstige geslagte. Soos die Jode in oorlogtyd wat steeds hul huwelike eerbiedig het, moet ons ook verstaan dat elke gesin wat gevorm word ’n deel van die kultuur en samelewing van môre skep. Die vrugte van ’n sterk huwelik is die volgende generasie, gewortel in waarde, tradisie, en ’n gesonde selfbeeld.

Om dus te trou, is nie net ’n saak van liefde nie, maar van 'n groter, heilige roeping – ’n manier om, soos 'n sterk boom, 'n vaste fondament te wees vir ons kinders, ons gemeenskappe, en ons nasie. Laat ons daarom die heilige verbintenis van die huwelik eer, nie as 'n kortstondige keuse nie, maar as ’n lewenslange reis vol groei, liefde, en 'n belofte aan iets groter as onsself.  

"Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, doen julle ook net so aan hulle; want dit is die wet en die profete." (Mat 7:12)