Hoe om nie geestelike Oorlogvoering te doen nie.

Spiritual warfare is real, but many are unaware. The enemy, a master deceiver, lures even sincere believers into shadowboxing—fighting illusions instead of landing real blows against darkness.

Hoe om nie geestelike Oorlogvoering te doen nie.

Weerlegging van die Leer oor Kinderdoop as 'n Offer aan 'n Watergees

The gates of Hell cannot prevail over the Church  that is holy, the Church that produces the only truly happy people in the world, the saints.  (Peter Kreeft)

Die aanspraak dat kinderdoop (besprinkeling) 'n verbond met watergeeste sluit, soos in die aangehegte dokument beweer word, is teologies onhoudbaar en onversoenbaar met Bybelse lering.  As 'n Pinksterkerk wat glo in die doop van gelowiges deur onderdompeling, verwerp ons kinderdoop as 'n sakrament, maar selfs binne hierdie raamwerk moet hierdie dokument se aansprake afgekeur word omdat dit nie ooreenstem met ortodokse Christelike teologie nie. 

Hier volg 'n verduideliking waarom hierdie leerstelling misleidend en onskriftuurlik is.

Eerstens moet ons verstaan dat die Bybel geskryf is binne ’n antieke wêreldbeskouing waar mense oor die algemeen geglo het dat baie gebeure in die natuurlike wêreld—soos swangerskap, siektes, dood en swak oeste—’n geestelike of bonatuurlike oorsprong het. Hierdie oortuiging is nie uniek tot die Hebreeuse tradisie nie, maar was algemeen onder alle volke in daardie tyd, soos blyk uit die wye verspreiding van godsdienste, besweerders, towernaars en waarsêers (sien bv. Daniël 2:2, waar koning Nebukadnesar sy waarsêers, towernaars en sterrekenners raadpleeg).

Die Bybel onderskei egter duidelik tussen die heidense praktyke van animisme en die openbaring van God se wil deur Sy profete. Terwyl sommige antieke kulture oorgeskakel het na politeïstiese of animistiese gebruike, het die Bybel se sentrale boodskap gefokus op die monoteïstiese geloof in die God van Israel, wat nie net Skepper is nie, maar ook Heerser oor alle aspekte van die skepping (Jesaja 45:7). Hierdie perspektief bied 'n alternatiewe raamwerk waarin alledaagse gebeure toegeskryf word aan God se soewereine wil, eerder as aan 'n komplekse netwerk van geeste of gode.

In verskeie gedeeltes word afgodery en toordery as afvallig en verwerpbaar verklaar (sien Deuteronomium 18:10-12). God se volk is opgeroep om nie aan hierdie heidense gebruike deel te neem nie, maar om op God se openbaring en leiding staat te maak. Die profete van die Bybel—soos Daniël—dien as teenvoeters vir die heidense tradisies deur die wysheid van die ware God te openbaar.

Jesus se Gesag oor die Geestelike Wêreld

Jesus breek met magiese, toordery tipe, praktyke en spreek die bose geeste direk aan, en dryf hulle uit.  Jesus het geestelike en fisiese probleme direk aangespreek met Goddelike gesag, sonder rituele of bygelowiges rites. In Matteus 8:16-17 het Jesus siekes genees en demone met 'n woord uitgedryf, in vervulling van Jesaja se profesie. Sy gesag was duidelik in die eenvoud en direkte aard van sy optrede.  In Lukas 4:31-37 het Jesus 'n onrein gees stilgemaak en uitgedryf met 'n eenvoudige bevel. Daar was geen rituele voorbereiding of uitgebreide dramatiese vertoon nie—slegs die krag van sy woord.  Jesus het nêrens direk met water geeste gedeel of gekonfronteer nie.  Selfs die storm op die see, word die "storm" aangespreek, nie 'n gees nie.  (Mark 4:35-41) 

Verkeerde Interpretasie van Bybelse Gebeure.

Die dokument trek spekulatiewe verbande tussen watergeeste en Bybelse gebeure soos Jesus se ontmoeting met Legio of sy stilmaak van die storm. Hierdie interpretasies oorinterpreteer die Bybel: Terwyl Jesus bose geeste gekonfronteer het (bv. Matteus 8), is daar geen Bybelse basis om te beweer dat watergeeste spesifieke ooreenkomste deur doop sluit nie.  Verder word die konteks in hierdie skryfgedeeltes geïgnoreer: Gebeure soos die Jordaan-oorgang (Josua 3-4) of Jesus se doop (Matteus 3:13-17) demonstreer God se heerskappy oor die skepping, nie assosiasie met demoniese entiteite nie. Die idee van watergeeste is ’n mitologiese invoeging, nie ’n teologiese gevolgtrekking nie.

Die vyand se mag lê daarin om mense van sy leuens te oortuig. Wanneer hulle hierdie leuens glo, word hulle gevangenes van sy leuens, iets wat dikwels in heidense kulture manifesteer. Voorbeelde sluit in bygelowe, kulturele tradisies, en mistieke godsdienstige praktyke soos die dra van sekere hangertjies vir beskerming of die gebruik van beeldjies om huise te beveilig.  

Die Gevaar van Magiese Denke.

Die dokument weerspieël 'n tipe magiese denke wat Christelike praktyke gelykstel aan okkultiese rituele. Dit is gevaarlik, want dit ondergrawe Geloof in Christus: Vrees vir demoniese ooreenkomste verskuif die fokus van Christus se genoegsame werk aan die kruis na menslike handelinge of vermeende geestelike kwesbaarhede.

Dit weerspreek Bybelse Lering: Paulus herinner ons in Kolossense 2:15 dat Christus die owerhede en magte ontwapen en oor hulle getriomfeer het. Gelowiges word geroep om in hierdie oorwinning te staan, nie om gevangene te wees van onsigbare vrese nie.

’n Wêreldbeskouing wat hierdie oortuiging versterk, word veral deur Amanda Buys en die "Huisskoonmaak"-video’s verkondig. Hier word die oorsprong van feitlik elke beeldjie en fisiese item ondersoek vir moontlike heidense afkoms. As daar bevind word dat ’n beeldjie in ’n heidense land gemaak is, moontlik deur priesters wat vloeke daarop geplaas het, word spesifieke rituele aanbeveel om die vloek te breek. Dit sluit dikwels in die salwing van jou huis, deure en vensters. 

Daar is sekerlik waarheid daarin dat sommige items of produkte op ons winkelrakke deur mense van heidense agtergrond vervaardig word en selfs aan valse gode geoffer is, soos byvoorbeeld sekere Halal-voedselprodukte. Maar beteken dit ons is onvermydelike slagoffers van geestelik onrein produkte wat wêreldwyd daagliks vervaardig word?  

Ons moet realisties vra: Is dit prakties moontlik om elke item wat ons koop, gebruik of eet, te ondersoek en van geestelike "besoedeling" te reinig? Hoeveel riviere en damme moet ons nou eers reinig voordat ons die water kan drink? Wat gebeur as ek per ongeluk iets gebruik wat onder demoniese invloed is?  

Die Skrif bied egter ’n ander perspektief. Paulus stel dit duidelik in 1 Korintiërs 8:4-8 dat voedsel wat aan afgode geoffer is, geen intrinsieke mag oor ons het nie, omdat daar net een ware God is. Die krag van ’n vloek of sogenaamde "onreinheid" lê nie in die item self nie, maar in ons oortuiging en geloof. Wanneer ons in Christus is, leef ons in Sy oorwinning (Johannes 16:33). Ons hoef nie voortdurend in vrees te leef dat ons onbewustelik aan demoniese invloed blootgestel word nie. Ons is vry in Christus, en Sy genade en beskerming is voldoende vir ons daaglikse lewens. 

Die uitdaging is inderdaad om nie deur vrees gedryf te word nie, maar om in geloof en vrede te leef, vasberade in die waarheid dat "Hy wat in ons is, groter is as hy wat in die wêreld is" (1 Johannes 4:4). Dit is 'n kernwaarheid wat ons herinner aan die oorwinning wat ons in Christus het.

Die misleiding van ’n teologiese fokus op produkte en fisiese items in geestelike oorlogvoering lê daarin dat dit ons aandag aflei van die werklike stryd wat die Skrif beskryf. Die Bybel leer dat die oorlogvoering van die gelowige nie oor aardse dinge gaan nie, maar oor die behoud van ons geloof in Christus en die bewaring van ons harte teen die leuens en misleiding van die vyand. Bestudeer die volgende verse Lukas 22:31-32; 1 Timoteus 6:12 en 2 Timoteus 4:7; 1 Petrus 5:8-9;  2 Korintiërs 10:3-6 en sien dat die fokus van ons geestelike worstelstryd is: OM ONS GELOOF IN GOD TE BEHOU! 

Hierdie gedeeltes herinner verder dat die kern van geestelike oorlogvoering is om ons harte te beleer teen sonde, misleiding en valse oortuigings wat ons weglei van God. Dit is in ons harte waar ons stryd plaasvind—die plek waar ons keuses maak om God te verheerlik of nie. Wanneer ons fokus verskuif na fisiese items of rituele, verloor ons die werklike doel van geestelike stryd uit die oog.

Die ware oorwinning in geestelike oorlogvoering lê in ’n heilige, toegewyde lewe aan Jesus Christus. Wanneer ons vol is van die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22-23) en ons lewens aan God oorgee in liefde en gehoorsaamheid, behaal ons oorwinning. Ons oorwin deur die krag van die Heilige Gees, wat ons toerus om sonde te oorwin, in waarheid te wandel, en met oortuiging te lewe.  Wanneer ons hierdie dinge doen, leef ons in oorwinning, nie deur ons eie krag nie, maar deur die krag van Christus wat in ons werk. Hierdie is die geestelike stryd waarvoor ons geroep is, en dit bring nie vrees nie, maar vrede, vryheid en vreugde in ons wandel met die Here.  (Rom 14:17) 

Sou enige produk 'n hindernis wees tot hierdie algehele hartsingesteldheid, moet ons dit natuurlik vernietig. Maar die krag van die Jesus lewe is nie om weg te kruip van dit wat boos is nie, maar eerder dit te verower en onderhewig te maak aan die Here tot Sy eer.  Die manier hoe ek my selfoon tyd bestuur, en dit waarna ek kyk, is 'n baie groter oorlogvoering van die hart as om bekommerd te wees oor watergeeste! Omdat daar dalk boosheid op my foon besigtig kan word, en toegang verkry na my hart, gooi ek immers nie my foon weg nie, ek leer om die foon tot eer van die Here REG te gebruik. 

Ons hart kan mislei word! (laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. 2 Cor 7:1) Soms sal diegene wat in hierdie hierdie tipe teologiese denke vasgevang is, preke preek met die titel die Jesebel, Agab of Judas gees.  Weereens word jy bewus gemaak en gewaarsku teen 'n sekere gees. Daar is dan soos alle misleidings waarheid in wat hulle preek, want hierdie was inderdaad bose mense, en ons almal kan vasgevang raak in sonde en boosheid. 

My vraag is, wat is die oplossing? 'n Eenmalige gebed van bevryding deur die prediker? Moet ek een of ander ritueel uitvoer?  

Die waarheid is besoedeling en aanvalle van boosheid sal voortduur solank ons nog hier op aarde bestaan, en daarom is die bevryding van 'n gesindheid van trots en eie-belang nie eenmalig nie, maar 'n gedurige reiniging van die Heilige Gees soos ek bo alles sy nabyheid soek en koester!  Ons oorwin hierdie bose besoedeling nie soseer deur harder teen boosheid te veg nie, maar om eerder gevul te wees met nederigheid, liefde, toewyding, empatie, vreugde, en dankbaarheid.  (Ons oorwin dus die kwaad deur die goeie). (Romeine 12:21)

Selfs al verwerp ons kinderdoop op teologiese gronde, bly die bewering dat dit ’n demoniese ooreenkoms is, totaal ongegrond en misleidend. Kinderdoop is volgens wat ons as kerk glo bloot 'n Tradisie van Toewyding.  Alhoewel ons kinderdoop teologies verwerp, verstaan ons dat dit in sommige Kerke dien as 'n daad van verbondstoewyding: Kindertoewyding is ooreenkomstig Ou Testamentiese praktyke  soos Samuel se toewyding (1 Samuel 1:27-28), en weerspieël die insluiting van huishoudings in die geloofsgemeenskap (Handelinge 16:33). Volgens hierdie kerke is die kinderdoop ’n Verklaring van Genade: Dit beklemtoon God se inisiatief in die lewe van die gelowige. Vir hierdie kerke het prakties, besprinkeling besnydenis vervang.  Ons kerk glo wedergeboorte "die besnydenis van die hart" het die besnydenis van die vlees vervang.  

Om besprinkeling met watergeeste te assosieer, is totaal en al 'n waninterpretasie van die Bybelse begrip van God se genade en beskerming. Hierdie siening impliseer dat ouers wat deur die eeue heen hul kinders aan die Here toegewy het deur besprinkeling, onbewustelik 'n sataniese ritueel uitgevoer het. Dit is nie net teologies onsinnig nie, maar ook uiters verregaande en afbrekend.

Die aanhangers van hierdie tipe denke, sal ook verdere heidense oorspronge van heidense tradisies teen tradisionele kerke probeer vind: vrye messelaars "laylines", kerktorings en fallus-tipe gedenkstene ens.  Daar mag sekerlik waarheid steek in van hierdie aannames, die Christen Tradisie het vele heidense gebruike geabsorbeer oor die eeue.  Die kwessie is, hoe breek ons vry? Na ek nou bely het, en vloeke gebreek het? Wat nou? Hoekom kry ek finansieel nog steeds swaar, hoekom eindig baie van diegene wat hulle so besig gehou het met hierdie tipe geestelike oorlogvoering se huwelike ook in die skeihof? Hoekom dien baie van hierdie mense se kinders ook nie die Here nie, en kry eerder 'n afkeur van die Christen geloof? 

Die rede waarom ons triomfeer in hierdie wêreld, lê in ons algehele fokus op Jesus. Wanneer ons vervul is met die Heilige Gees en daagliks lewe in voortdurende bekering—’n hart-en-denke-verandering wat ons ten volle in lyn bring met God se wil—word ons hele menswees getransformeer. Hierdie gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun raak elke aspek van ons lewe:

Geestelik; Emosioneel; Intellektueel; Finansieel; Fisies; Gewoontes; Identiteit; 

Karakter; en Leefwyse wandel as ligdraers in hierdie wêreld, ’n refleksie van Sy heerlikheid.

Dit is hierdie verhouding met Jesus—die voortdurende aanpassing en gelykvorming aan Sy beeld—wat ons toerus om in elke aspek van ons lewe as oorwinnaars te leef en triomf oor sonde, vrees, en die uitdagings van hierdie wêreld te ervaar.

Gevolgtrekking

Die bewering dat kinderdoop ’n verbond met watergeeste sluit, is nie net teologies verkeerd nie, maar ’n gevaarlike afwyking van die evangelie van Jesus Christus. Dit bevorder vrees en bygeloof, en lei gelowiges weg van die waarheid van die Skrif. Ons kan nie sogenaamde “swart magie” bestry met “wit magie” nie. Die evangelie roep ons om bose magte te weerstaan deur geloof, gebed, en vertroue in Christus se voltooide werk. Jesus het getoon dat geestelike gesag deur gehoorsaamheid aan God en die krag van sy woord uitgeoefen word, nie deur rituele of spekulatiewe vrese nie.

Hierdie leerstelling moet verwerp word ten gunste van ’n Christus-gesentreerde teologie wat die oorwinning van die kruis en die bevrydende waarheid van die evangelie beklemtoon.

Spiritual warfare
Jesus And The Spirit-World - Jesus, The Best Life Ever Lived
The spirit and supernatural world is far more part of our daily life experience than we realise. Jesus shows us how to walk in victory.