Hoe om reg te oordeel.
In die berg predikasie hoor ons: Jy mag nie oordeel nie: ek dink as ons hierdie gedeelte reg lees, bedoel dit eerder: Oppas, moenie verkeerd oordeel nie, leer om reg te oordeel.
In 'n wêreld vol misverstande, verskille en oppervlakkige aannames, het ons as Christene 'n verantwoordelikheid om anders te oordeel as wat die wêreld doen. Ons word geroep om met wysheid, regverdigheid en liefde te oordeel, en nie op grond van voorkoms of vinnige gevolgtrekkings nie. Jesus waarsku teen die gevare van oppervlakkige oordeel en daag ons uit om die hart en motiewe van mense te fynkam voordat ons moontlik 'n verkeerde oordeel vel. Daar is niks so sleg as om deur veral die mense wat jou die beste behoort te ken, verkeerd beoordeel te word nie.
In hierdie boodskap gaan ons kyk na Bybelse riglyne oor hoe ons reg kan oordeel, gebaseer op Skrif, en hoe ons kan verseker dat ons oordele God se geregtigheid en genade reflekteer.
Oordeel is ’n noodsaaklike deel van ons daaglikse lewe en help ons oorleef. Elke dag maak ons honderde keuses oor wat waar of vals, reg of verkeerd, en goed of sleg is. Interessant genoeg, die meeste van hierdie oordele is eintlik oor onsself: Is ek mooi genoeg? Slim genoeg? Kan ek hierdie taak regkry? Die tweede groep oordele handel oor ander mense: Is my ouers werklik lief vir my? Kan ek my maat of vriend vertrou? Vertel hierdie persoon die waarheid?
Daar is natuurlik ook die praktiese oordele wat ons maak, byvoorbeeld: Hoe gaan hierdie klere my pas? Sal hierdie stoel gemaklik wees om op te sit? Hoe voel iets wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie? Is hierdie die beste manier om my geld te belê?
Oor tyd word hierdie versameling oordele die "bril" waardeur ons die wêreld sien. Ons vorm 'n stel filters – godsdienstig, ideologies, kultureel of finansieel – wat ons help om vinniger besluite te neem. Om elke keer alles deeglik te toets en te bewys is eenvoudig te tydrowend en ingewikkeld. Daarom is ons dikwels geneig om maklike oplossings vir komplekse probleme te soek. Ons oordeel en maak aannames omdat dit moeilik is om oor elke detail diep na te dink. Maar as Christene, moet ons waak om nie oppervlakkig of vinnig te oordeel nie, want ons roeping vra meer as dit.
"Thinking is difficult, that's why most people judge." - Carl Jung
Die mees gevaarlikste vorm van verkeerde oordeel is om aanstoot te neem, verontreg te voel, gegrief, bitter en kwaad te wees oor 'n saak wat nie wettiglik of redelik in dialoog gehanteer is nie.
Dit is uiters moeilik om redelikheid aan 'n verontregte persoon te verduidelik, omdat hulle emosies so hoog is en hulle persepsie so vertroebel kan wees deur persoonlike griewe. Dit kan 'n versperring tot rasionele gesprek skep, omdat hulle dalk meer deur hulle gevoelens van seer of woede aangedryf word as deur feite of logiese argumente. In Bybelse terme sê Spreuke 18:19, "‘n Broer wat te na gekom is, is erger as 'n versterkte stad; en twis is soos die grendel van 'n kasteel." Dit dui daarop dat, sodra iemand voel hulle is verkeerd behandel, versoening so moeilik kan wees soos om 'n versterkte stad te oorwin.
Jy mag nie oordeel nie?
In die berg predikasie hoor ons: Jy mag nie oordeel nie: ek dink as ons hierdie gedeelte reg lees, bedoel dit eerder: Oppas, moenie verkeerd oordeel nie, leer om reg te oordeel as om glad nie te oordeel nie.
MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. (Mat 7:1-5)
Hier is 30 maniere waarop ons mense verkeerd beoordeel:
1. Voorkoms vooroordeel: Ons maak aannames oor iemand se karakter of vermoëns op grond van hul fisiese voorkoms. Ons maak allerhande vooropgestelde afleidings gegrond op kort of lank, verslons of netjies, oorgewig or maer, stylvol of eenvoudig.
2. Klere en uiterlike styl: Mense word dikwels beoordeel op grond van hoe hulle aantrek en hulle spesifieke klere styl. Formele drag, informeel, sportdrag, boheemse styl, retro of vintage styl, streetwear, chique styl.
3. Veralgemening: Ons gebruik stereotipes om mense vinnig in kategorieë te plaas, soos ouderdom, getroud of ongetroud, ras, geslag of nasionaliteit.
4. Eerste indrukke: Ons vorm vinnig oordele op grond van die eerste paar sekondes van interaksie, en dit beïnvloed hoe ons hulle verder waarneem.
5. Liggaamstaal: Ons interpreteer liggaamstaal verkeerd en dink byvoorbeeld dat iemand senuweeagtigheid of ongemak toon as hulle skaam is.
6. Taal en aksent: Ons oordeel mense op grond van hoe hulle praat of hul aksente, en trek afleidings oor hul intelligensie of agtergrond.
7. Bevestiging vooroordeel: Ons soek inligting wat ons reeds bestaande oortuigings oor 'n persoon bevestig, en ignoreer teenstrydige bewyse.
8. Verteenwoordigendheid vooroordeel: Ons neem aan dat iemand tot 'n sekere groep of tipe behoort op grond van enkele eienskappe.
9. Sosiale status: Ons oordeel mense gebaseer op hul ekonomiese status of beroep en aanvaar dat dit hul waarde of vermoëns weerspieël.
10. Geslag vooroordeel: Ons assosieer sekere eienskappe of gedrag met 'n geslag en beoordeel mense wat nie aan daardie stereotipes voldoen nie.
11. Vermoë om emosies te lees: Ons dink ons kan iemand se emosionele toestand reg verstaan deur na hul gesig of gedrag te kyk, maar dikwels is ons verkeerd.
12. Etniese of kulturele vooroordele: Ons beoordeel mense op grond van vooropgestelde idees oor hul kultuur of etnisiteit.
13. Tydelike stemming: Ons oordeel mense verkeerd as hulle in 'n slegte bui is en aanvaar dit weerspieël hul permanente persoonlikheid.
14. Groepeerdruk: Ons neem aan iemand se karakter of vermoëns is soos dié van die groep waarin hulle beweeg.
15. Prestige-effek: Ons sien mense met meer sosiale status of rykdom as slimmer of meer bekwaam as ander.
16. Halo-effek: Ons glo dat iemand wat goed is in een aspek, ook goed is in ander aspekte.
17. Horing-effek: Ons maak negatiewe aannames oor iemand gebaseer op een swakheid of fout wat ons by hulle opmerk.
18. Onrealistiese verwagtinge: Ons plaas onbillike verwagtinge op mense en beoordeel hulle negatief wanneer hulle nie daaraan voldoen nie.
19. Oormatige selfvertroue in ons oordeel: Ons dink ons oordeel is akkurater as wat dit werklik is, en kyk nie na ander perspektiewe nie.
20. Konformiteitseffek: Ons beoordeel mense wat nie aan ons norme of verwagtinge voldoen nie as vreemd of verkeerd.
21. Selfde-soos-ek vooroordeel: Ons bevoordeel mense wat soos ons lyk of optree, en oordeel ander harder wat verskil.
22. Verhouding met sukses: Ons assosieer sukses met deug en neem aan iemand is ‘n beter mens net omdat hulle suksesvol is.
23. Onvoorsiene omstandighede ignoreer: Ons gee nie ag op die eksterne omstandighede wat iemand se gedrag of prestasie kan beïnvloed het nie.
24. Dobbelaar se vooroordeel: Ons oordeel mense op grond van vorige gedrag, en glo hulle gaan voort om dieselfde te doen, selfs al het situasies verander.
25. Illusie van kenbaarheid: Ons dink ons verstaan iemand heeltemal nadat ons 'n kort tyd saam met hulle deurgebring het, en maak verkeerde aannames oor hul karakter.
26. Verwagting van eerlikheid: Ons neem aan dat mense eerlik is, selfs al is daar tekens dat hulle nie die waarheid praat nie.
27. Emosionele oordrag: Ons beoordeel mense sleg omdat hulle ons aan iemand anders herinner wat ons nie van hou nie.
28. Vinnige gevolgtrekkings: Ons neem aan iemand is op ‘n sekere manier net omdat hulle een klein ding gedoen het wat ons nie verwag het nie.
29. Gesondheid status of fisiese toestand: Ons oordeel mense op grond van hul fisieke voorkoms of gesondheidstoestand, en dink dit reflekteer hul algehele waardes of vermoëns.
30. Gebrek aan empatie: Ons sukkel om onsself in ander se skoene te plaas en beoordeel hulle op grond van ons eie ervarings en perspektief.
Die skrif bied ons praktiese stappe wat ons kan neem om reg te oordeel:
Hier is 'n lys van goeie praktyke en die beste maniere om mense te beoordeel:
1. Raak ontslae van alle vooroordele[1]
Niemand hou daarvan om veroordeel te word, nog voor die feite verkry is nie. Ons hou ook nie daarvan om beoordeel te word nie. Daarom moet ons te alle tye ons harte skoon hou van ALLE vooroordele!! Marshall Rosenberg se boek non-violent communication is gefokus om mense te wys hoe hulle vooroordele sigbaar is, in hulle houding, stemtoon, volume, en woordgebruik wat kommunikasie onmoontlik maak. Vir inligting om reg oorgedra en ontvang te word, moet mense voel daar is empatie.
“Moet dan nie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Matteus 7:1)
Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. (Mat 7:1-5) Mense kan vooroordele dadelik aanvoel, en rig dan hulle skans hoër, want hulle verwag 'n aanval. Hulle mag daarom selfs aanvallend voorkom. 'n goeie Regter, joernalis, of wetenskaplike met integriteit laat hom of haar lei soos bewyse te vore kom, voor die finale oordeel gevel word.
2. Oordeel na die Gees, nie uiterlike voorkoms.
Ons moet nie oppervlakkig oordeel nie, maar eerder regverdig oordeel.
“Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ’n regverdige oordeel." (Johannes 7:24)
Onlangs tydens ons uitreik na Victoria Wes, voor ons eerste samekoms om 'n paar pastore en geestelike leiers van die dorp te ontmoet, wys die Here my 'n manier om mekaar vinniger te leer ken. Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. (2 Corinthians 5:16) Sien mekaar in die Gees! Toe ons almal herinner om mekaar in die gees te sien, verspoedig dit die kennisname proses, en gevoel van samehorigheid ten spyte van kultuur, kleur en sosio-ekonomiese verskille.
3. Ondersoek eers jou eie hart
Voordat jy ander beoordeel, maak seker dat jy jou eie foute erken en introspeksie doen. Trauma en seer, maak jou selfgerig, en bring mee dat jy mense deur jou eie seer en pyn raaksien. Niks wat hulle sê of doen is vir jou reg nie. Jy skryf af, en distansieer. Tweedehandse aanstoot neem en iemand veroordeel vir iets waarby jy self nie direk betrokke was nie, is gevaarlik!
“Hoe sien jy die splinter in jou broer se oog, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Lukas 6:41)
Navorsing het getoon dat mense se emosionele toestand aansienlik beïnvloed hoe hulle die werklikheid waarneem en interpreteer, soms selfs veroorsaak dat hulle gebeure onthou wat nooit plaasgevind het nie. Studies in kognitiewe sielkunde toon dat sterk emosies, soos vrees, woede, of blydskap, herinneringe en persepsies kan vervorm, wat lei tot skeefgetrekte of onakkurate weergawes van die werklikheid.
'n Bekende voorbeeld hiervan is die studie van "flashbulb memories", wat lewendige herinneringe van emosioneel gelaaide gebeure is. Alhoewel hierdie herinneringe baie akkuraat voel vir die persoon, het navorsing bewys dat hulle dikwels geneig is tot foute en vervormings. Mense mag selfversekerd besonderhede onthou wat nooit gebeur het nie, omdat hul emosies tydens die gebeurtenis hul persepsie verhoog het, maar ook tot noemenswaardige geheuevervormings gelei het.
5. Die enigste regverdigbare Bybelse oordeel is konfrontasie
Mat 18 en Luk 17. Om iemand te oordeel sonder dat hulle weet dat hulle in jou hof is, is onwettig! Daarom vra ons mense direk. Praat ons MET mense inplaas van VAN mense! Die beste manier van Bybelse oordeel is om vrae te vra. Vra direk: verstaan ek jou reg?
4. Oorweeg die vrug van hul lewe
Ons moet mense beoordeel op grond van hul dade en die vrug wat hul lewe voortbring, eerder as oppervlakkige voorkoms.
“Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” (Matteus 7:16)
Vrug spreek van verrigte take, uitkomste, hoe ander iemand beleef. Dit is hoekom ons tydens die onderhoud proses referente skakel om te vertel hoe hulle iemand beleef het in hulle werkomgewing. Die feit is, ons kan nog steeds iemand verkeerd opsom. As hulle nie hulle hart vir ons oopmaak nie.
5. Toets alles, hou wat goed is
Ons moet alles toets en die goeie behou, sonder om vinnige afleidings te maak.
“Beproef alle dinge; behou die goeie.” (1 Tessalonisense 5:21). Soms is mense so agterdogtig, hulle kan net foute uitwys en onthou. Die Bybelse Jesus manier van oordeel is, om die goed in mense raak te sien. Ons behou dus die goeie!
6. Liefde maak 'n weg
Wees genadig soos die Here genadig is. Omdat onsself van sonde bevry is, en soveel genade betoon is, gee ons meer genade. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. Luk 7:47
Ons moet oordeel met genade en deernis, net soos God genadig is teenoor ons.
“Wees barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (Lukas 6:36)
Oordeel moet altyd vanuit 'n plek van liefde kom, nie uit haat of wraak nie.
“Laat alles wat julle doen, in liefde geskied.” (1 Korintiërs 16:14)
7. Onderskei die motiewe van die hart
Kyk dieper as die uiterlike optrede en probeer verstaan wat iemand se ware motiewe is.
“Want die Here kyk nie soos 'n mens kyk nie; want die mens kyk na die uiterlike, maar die Here kyk na die hart.” (1 Samuel 16:7)
'n goeie manier om werklik agter die dieper motief te kom is om 4 keer hoekom te vra: Hoekom wil jy dit hê? antwoord... Hoekom? antwoord... Hoekom? antwoord... Hoekom? antwoord...
8. Onderskei die gees agter die dade
Wanneer ons iemand uitvra oor hulle ware motief, vind ons dat hulle gesindheid en ingesteldheid nie boos was nie. Dit is belangrik om die gees agter 'n persoon se dade te onderskei, eerder as om net hul uiterlike optrede te beoordeel. Mens moet die daad oordeel, want die oortreder moet verstaan dat 'n sekere daad iemand seer kon gemaak het, al was die nie hulle motief nie.
“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar toets die geeste of hulle uit God is.” (1 Johannes 4:1)
9. Vergewe by voorbaat.
Wees gewillig om te vergewe en genade te toon eerder as om te veroordeel. Jesus het vergewe terwyl hulle Hom teen 'n kruis martel!
“En wees vriendelik teenoor mekaar, barmhartig, en vergewe mekaar soos God julle in Christus vergewe het.” (Efesiërs 4:32)
10. Vermy skynheiligheid in oordeel
Moet nie ander kritiseer vir iets waaraan jy self skuldig is nie.
“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar die binnekant is vol roof en onmatigheid.” (Matteus 23:25)
DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. (Rom 2:1)
11. Wees nederig en bewus van jou eie beperkings
Wanneer ons oordeel, doen ons dit met nederigheid bewus van ons eie tekortkominge.
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (Jakobus 4:6)
BROEDERS, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself. Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. Want elkeen sal sy eie pak dra. (Gal 6:1-5)
12. Oordeel in die waarheid
Ons moet altyd oordeel met die waarheid en regverdigheid as riglyn, en nie deur ons eie vooroordele nie. Daar is niks wat mense se gemoed so kalmeer en vertroos, as om reg geoordeel te word nie. As jy die onreg teenoor die slagoffer beter kan verduidelik as wat hulle self dit kan verduidelik, gebeur daar regte luister. Iemand wat voel hulle word reg gehoor, hoef nie meer op die aanval of verdediging te wees nie.
“Regterlik oordeel vir die arme en die behoeftige; oordeel regverdig.” (Spreuke 31:9)
13. Luister na beide kante
Moet nie oordeel voordat jy albei kante van die saak gehoor het nie.
“Hy wat eerste in sy saak spreek, lyk regverdig, totdat sy mededinger kom en hom toets.” (Spreuke 18:17)
14. Wees stadig om kwaad te word
Moet nie uit emosie oordeel nie, maar neem tyd om dinge kalm en regverdig te oorweeg.
“Wees stadig om te praat, stadig om kwaad te word.” (Jakobus 1:19)
15. Vra God om jou oordeel te rig
Vra God vir wysheid wanneer jy 'n moeilike besluit moet neem of iemand moet beoordeel.
“As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid.” (Jakobus 1:5)
Sien ook hierdie preek oor https://www.harvestercederberg.co.za/verstaan-god-se-oordele/
Daar is 'n lang lys van Kognitiewe Vooroordele waar ons brein met ons speletjies speel: https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_cognitive_biases
[1] Marshall Rosenberg's Nonviolent Communication: A Language of Life provides a communication framework that fosters mutual respect, understanding, and compassion. This approach emphasizes empathetic listening and honest and clear expression without blame or criticism.
Die grondliggende werk oor kognitiewe vooroordele deur Amos Tversky en Daniel Kahneman word uiteengesit in hul invloedryke boek "Judgment Under Uncertainty: Heuristics and Biases" (1982). Hierdie boek versamel navorsing en insigte oor hoe kognitiewe vooroordele menslike besluitnemingsprosesse beïnvloed. 'n Ander belangrike boek deur Daniel Kahneman, "Thinking, Fast and Slow" (2011), verken ook kognitiewe vooroordele in diepte en bied hul navorsing in 'n meer toeganklike formaat aan.