Hoekom Die Regte Vriende Noodsaaklik Is
Hoe Om Vriende Te Maak en Hulle te Behou!
Onlangs op ’n internasionale media platform saam met Trevor Noah, het die bekende spreker en leierskap spesialis, Simon Sinek, ons verras met sy huidige fokus. Hy het beklemtoon hoe belangrik "die behoud van kwaliteit vriendskappe" vir hom geword het, veral namate roem hom besiger as ooit gemaak het. Wat verrassend was, is hoe hierdie prioriteit vir hom mettertyd gegroei het, eerder as om af te neem. Beide Trevor en Simon het benadruk dat dit ’n doelbewuste keuse vir hulle geword het om meer kwaliteit tyd met hul vriende deur te bring, ten spyte van hul besige skedules.[1]
Simon verwys in hierdie gesprek na die "Rotte Park"-eksperiment deur die Kanadese sielkundige Bruce Alexander in die 1970's. Hy het die gewilde idee uitgedaag dat verslawing bloot te wyte is aan die chemiese aard van dwelms. In tradisionele eksperimente het navorsers rotte in klein, geïsoleerde hokke geplaas met twee opsies vir drinkwater: gewone water en water gemeng met heroïen of morfien. Rotte in hierdie hokke het dikwels vinnig verslaaf geraak aan die dwelms. Bruce Alexander het egter gewonder of die rotte se omgewing ’n rol gespeel het in hul dwelmgebruik. Hy het dus 'n "Rat Park" geskep—'n groot, stimulerende omgewing vol rotte-geselskappe, speelgoed, kos, en plek om rond te beweeg. Hier was rotte steeds blootgestel aan die twee soorte water. Die resultate was verbasend. Rotte in die stimulerende "Rat Park" het baie minder belangstelling in die dwelmwater getoon, selfs al was dit beskikbaar. Hulle het verkies om gewone water te drink, en hulle het nie dieselfde verslawende gedrag getoon as rotte wat in isolasie geplaas is nie.
Op hierdie tydstip het ons lewens so besig geraak dat ons bykans net tyd het vir werk en ons gesin. As gevolg van die toenemende druk en eise van die lewe, het ons vriendskappe begin vervaag. Omdat ons onder druk is, het van hierdie vriendskappe se werklike waardes na vore gekom, en almal het nie noodwendig geestelikheid prioritiseer nie.
Die wêreld maak ook vriende, en al is hulle standaard nie baie hoog nie, vind ek uit by 'n onlangse begrafnis van iemand wat feitlik nooit in die kerk was nie, maar van die afgestorwe word gesê: "Hy was altyd daar vir my"; "Hy was altyd reg met 'n grappie en iets om jou op te beur"; "Hy was altyd bereid om te help waar hy kon". Ek dink hierdie vriendskappe is juis gebou rondom die diep gesprekke van oopmaak en kwesbaarheid (asook wanneer 'n paar doppe verorber is).
My grootste voorreg en seën van dié posisie wat ek tans beklee, is my sirkel van vriende in hierdie gemeente, asook die paar buite die gemeente. Hierdie vriende het my help vorm wie ek vandag is, en wie ek nog besig is om te word. Vriende wat hou van dieper betekenisvolle gesprekke oor die lewe, die kerk, die land, die ekonomie, die wêreld. Vriende wat nie bang is om eerlik en reguit te wees nie. Vriende wat die Here dien, is soos vars kole op die vuur.
Die eerste vriendskap wat ons moet najaag is met die Here. "En die HERE het met Moses gespreek van aangesig tot aangesig, soos ’n man met sy vriend spreek." Eksodus 33:11. Daarna, moet jou lewensmaat jou beste vriend of vriendin wees. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son—al jou nietige dae; want dit is jou deel in die lewe en in jou arbeid waarmee jy arbei onder die son." Eccl 9:9. 16Sy mond smaak soet, hy is begeerlik in alles. So is my liefling, my vriend, vroue van Jerusalem.”[2] Song 5:16.
Tog is dit so dat jou lewensmaat nie in al jou sosiale, intellektuele, belangstellings, en begripswêreld se behoeftes kan vervul nie. Daarom is 'n gesonde, betroubare, lojale, en geestelike volwasse vriend of vriendin onombeerlik tot die welheid van die totale mens.
'n Vriendskap wat 'n leeftyd hou, is soos 'n boom met diep wortels, sterk genoeg om die storms en veranderinge van die lewe te weerstaan. Die wêreldse standaard van vriendskap is "utility" bruikbaarheid. Vriende word vriende bloot omdat ons dieselfde video speletjie speel, of gereeld op social media met mekaar "engage". Hierdie vriendskappe het nie 'n lang raklewe nie, want as ek van belangstelling verander, vervaag die vriendskap.
Die Bybel roep ons na 'n baie meer dieper en betekenisvolle vlak van vriendskap! Vriendskappe wat gesetel is in ons verhouding met die Here. Ongelukkig het hierdie tipe vriendskappe baie raar en seldsaam geword. So baie gelowiges voel alleen, en afgesonder van diep geestelike vriendskappe.
Daar is verskeie SLEUTELELEMENTE wat bydra tot 'n geestelike vriendskap wat die toets van tyd deurstaan:
Kies 'n Paar Goeie Vriende en Belê Tyd en Energie in Hierdie Vriendskappe
Te veel vriende kan vir jou probleme oplewer. Maar ’n mens kry ’n vriend wat nader aan jou is as jou eie broer.[3] Spreuke 18:24.
Selfs Jesus het vir Hom twaalf vriende gekies wat hom kon vergesel op sy roepingsreis. Wat so aantreklik en voortreflik in Jesus se persoon was, was dat daardie paar jongmanne alles gelos het om Hom te volg. Maar, Jesus het Sy mees intieme binnekring beperk tot drie vriende.
Johannes verwys na homself as, "die dissipel wat die Here lief gehad het". Is dit nie arrogant om so na jouself te verwys nie? Het Jesus nie al Sy dissipels liefgehad nie? Johannes was deel van Jesus se binnekring en het gebeurtenisse soos die verheerliking op die berg en die lyding in Getsemane waargeneem. Hierdie diep verbondenheid deur ervaring met Jesus het hom waarskynlik daartoe gelei om klem te lê op die liefde wat hy van Christus ontvang het. Sommige teoloë stel voor dat hierdie uitdrukking Johannes se persoonlike ervaring van Christus se transformerende liefde weerspieël, wat dit ’n sentrale deel van sy identiteit gemaak het. Hierdie tema van liefde kom sterk na vore in Johannes se geskrifte, soos gesien in sy Evangelie en briewe.
Konsekwentheid, Teenwoordigheid en Lojaliteit
Blywende vriendskap kom dikwels neer op, om keer-op-keer op te daag. Selfs al neem die lewe vriende na verskillende geografiese of emosionele plekke, hou kontak en wees daar vir mekaar wanneer dit die meeste saak maak. Dit skep ‘n blywende en ewige band. Prediker 4:9-10 herinner ons: “Twee is beter as een, want hulle het ‘n goeie beloning vir hulle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel; maar wee die een wat val sonder om ‘n ander te hê om hom op te help!”
Alhoewel vriende oor die jare soos asem, nader en verder van mekaar beweeg, bly albei met die hart van God verbind. Daar is niks so wonderlik vir my as om vriende na 'n lank tyd weer te sien nie; dan tel ons die draad op waar ons dit laas gelos het, en gesels asof ons nooit weg was van mekaar nie. Want beide het met die hart van God verbind gebly. Albei hoor dus dieselfde hartklop van die Here. Deesdae laat die internet 'n mens toe om vriendskappe in stand te hou oor vêr afstande, tog ondervind ek dit meer belangrik om die vriende wat fisies naby my bly nie te verwaarloos nie. Dis hulle wat jou in die middel van die nag sal kom bystaan.
'n Gemeente, veral die huiskerk, behoort jou beste vriende te wees. Dis soms moeilik om hierdie diep verbintenis te maak, wanneer sosiale en ekonomiese klasse verskil. Dis egter my ondervinding dat mense wat geestelik op dieselfde vlak is, maklik skakel en in verbondenheid met mekaar leef. "Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede." Acts 2:42. Jou geestelike volwassenheid en statuur in Christus, transendeer enige fisiese beperkinge en sosiale hindernisse.
Wederkerige Respek en Aanvaarding
Om mekaar se verskille, persoonlike groei en lewenspaadjies te respekteer is van kardinale belang. ’n Vriendskap kan slegs volhoubaar bly as beide mense mekaar die ruimte gee om te groei, te verander, en steeds aanvaar te word. "Wees hartlik teenoor mekaar met broederliefde. In eerbied moet die een die ander voorgaan." Romeine 12:10. Wederkerige respek kweek 'n gesonde verhouding waarin beide kan floreer.
Respek beteken ook, dat ons nie familiêr raak met mekaar nie, nie mekaar se drumpel deurtrap nie, deurdat elkeen sy of haar grense ken. "Moenie te veel by jou buurman gaan kuier dat hy te veel van jou sien en weersin in jou kry nie." Prov 25:17.
Die drie-eenheid, bestaande uit die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, behou hul eenheid deur 'n dinamiese verhouding van eer en respek teenoor mekaar. Alhoewel elke Persoon uniek is in funksie en rol, opereer hulle in volmaakte harmonie omdat hulle mekaar voortdurend eer en dien. Die Seun onderwerp Homself aan die wil van die Vader, die Vader verhef die Seun, en die Heilige Gees getuig van beide die Vader en die Seun. Hierdie wederkerige respek en liefde verseker dat daar nooit verdeeldheid is nie, maar eerder 'n volmaakte, onbreekbare eenheid in wese en doel.
Vergifnis en Genade
Geen vriendskap is perfek nie, en konflikte sal opduik. Wat ‘n vriendskap bymekaar hou, is die bereidwilligheid om te vergewe en genade te betoon wanneer iemand ‘n fout maak. Dit weerspieël die vergifnis wat Christus van ons vra. "Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander iets het, soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen." Kol 3:13. Sonder vergifnis kan wrokke en bitterheid stadig ‘n verhouding vernietig. As ons versoek word om ons vyand lief te hê, hoeveel te meer moet ons veg om ons vriendskappe heilig te hou!
My ondervinding is dat wanneer ons nie meer met mekaar 100% eerlik is nie, sal vertroebeling die verhouding insluip. 'n Vriendskap is juis die éen plek waar ek myself selfs verkeerd mag uitdruk, maar nog steeds nie verwerp word nie. Hoekom is ons bang ons maak mekaar se gevoelens seer? Onthou om altyd toestemming te vra om 'n korreksie of vermaning te gee. Weet jy is nie in jou vriend se kop nie, en weet nie wat hulle dink nie. Moet dus nooit enige aannames maak nie!
“Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.” Spreuke 27:17. Vriende moet mekaar slyp! Vriendskap is nie onvoorwaardelike ondersteuning nie. Ek kan nie jou sonde goedpraat nie.
- Moderne Siening: Vriendskappe vandag prioritiseer dikwels emosionele bevestiging en ondersteuning. Gen Z en Millennials waardeer vriendskappe waar hulle "gesien" kan word, verstaan kan voel, en in hul persoonlike keuses en emosies ondersteun word, selfs al is daardie keuses nie altyd voordelig nie. Vriende word verwag om mekaar se lewenskeuses te bekragtig sonder te veel kritiek of oordeel.
- Bybelse Siening: Ware vriendskap in die Bybel gaan nie net oor ondersteuning nie, maar ook oor verantwoording en om die waarheid in liefde te praat. “Die wonde van ’n vriend getuig van trou; die soene van ’n vyand is oorvloedig.” (Spreuke 27:6).
Daarom moet ons leer om te vergewe, en nie aanstoot te neem nie! As ons vriend teen ons sondig berispe hom of haar (Luk 17:1-5). Dan volg vergifnis, selfs as hy of sy sewe keer die sonde aanhoudend doen; en daarna vergifnis vra, moet jy vergewe.
"As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en kom offer dan jou gawe." Matt. 5:23-24.
Goeie vriende ken mos mekaar se "way". Ons moet met deernis, mekaar se "donker" kant verstaan en nie oordeel nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. (Gal 6:2). Dis hier waar DOEN-DADE en AKSIES van liefde so kragtig is. Omdat ek my maat se moontlike swakplek ken kan ek my maat juis toemaak. "En bowenal moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek." (1 Pet 4:8).
Gedeelde Waardes en Doel
Terwyl vriende verskillende belangstellings en persoonlikhede kan hê, bied gedeelde kernwaardes dikwels die "gom" wat vriendskappe bymekaar hou. Om ‘n gemeenskaplike doel te hê, hetsy ‘n geloofsreis, gesinswaardes of ‘n gesamentlike verbintenis tot integriteit, kan ‘n sterk fondament skep. Amos 3:3 vra: “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle afgespreek het?” Hierdie vers beklemtoon die krag van samewerking.
Weereens is dit my ondervinding dat die vriende wat oor die jare nog steeds 100% die Here dien, bly lewenslank vriende! Die rede? Maak nie saak hoe volwasse jy in die Here is nie, ons moet elkeen ons geloof beoefen in daad en woord; dit kos herhaaldelike selfverloëning en opofferings. Op hierdie geloofsreis waarin ons almal deelneem, raak ons primêre gemenedelers.
Waardes, heiligmaking en geestelike groei is sinomiem. Wanneer iemand "lou" raak in hulle geloof, en van die Here begin wegval affekteer dit die vriendskap. Want wat ons saambind is ons liefde vir die Here!
Kwesbaarheid en vra hulp
Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. (Jak 5:16).
Simon en Trevor bespreek juis hierdie punt in hulle verhoog gesprek, dat soveel van hulle vriende nie met hulle, hulle probleme wil deel nie, omdat hulle alreeds so baie "hooi op hulle vurk" het. Simon raak emosioneel wanneer hy sy woorde aan 'n vriend herhaal: "Moet my asseblief nie beroof van die voorreg om vir jou 'n vriend in nood te wees nie!"
Leeftydvriendskappe word gebou op kwesbaarheid, waar beide vriende veilig voel om hul ware self te deel—gebreke, struikelblokke, hoop en drome. Hierdie soort openheid kweek intimiteit. Om kwesbaar te wees en mekaar se laste te help dra, maak vriendskappe sterker. Moenie te trots wees om hulp te vra nie en hulp te ontvang nie. Sommige misbruik "hulp vra" omdat hulle nog nie genoeg "vriendskap kapitaal" belê het in die verhouding nie.
Geloofshelde is nie ALTYD in oorwinning nie! Oppas vir "Triumphalism". Iemand wat dink dat geloof is net triomf, mis die merk. Geloof is roueerlik oor my swakhede, en beroep myself op die algehele genade en barmhartigheid van die Here. Ek beur opwaarts uit die oomblikke van verdriet, verlies, swakheid, en teleurstelling. Die liedjie, "Can't Praise Away the Mourning" deur Sam McCabe spreek oor die belangrikheid daarvan om pyn en hartseer in die oë te kyk, eerder as om dit met lof te probeer wegsteek. Dit beklemtoon dat ware groei kom deur omhelsing van swakheid en die vryheid wat gevind word in oorgawe aan uitdagings. Slegs deur hierdie proses kan geestelike transformasie plaasvind, en dit herinner ons daaraan dat oorwinning dikwels uit nederlaag ontstaan. [4]
Viering en Ondersteuning van Sukses
’n Ware vriend juig saam jou oor jou sukses, net soveel toe hy jou getroos het in moeilike tye. Leeftydvriende kompeteer nie, hulle moedig mekaar aan. Spreuke 17:17 vat dit pragtig saam: "‘n Vriend het te alle tye lief, en ‘n broer word vir die nood gebore." Ware vriende staan langs jou in beide triomf en beproewing.
'n Ware vriend is nie toksies nie, soek nie altyd sy eie gewin nie. Hy het jóú nie altyd nodig nie, is onafhanklik afhanklik = interafhanklik. Jesus het nie dadelik vertrek toe Maria en Marta hulle op hul vriendskap met Jesus beroep nie. Ons het mekaar nodig, maar die Here kan deur enigiemand voorsien. Ek is nie altyd my vriend se voorsiening nie. Moenie na 'n mens kyk nie. Ons vertroue is in die Here!
In die film Good Will Hunting speel Matt Damon die hoofrol as Will Hunting, 'n jong, begaafde wiskundige wat sukkel om sy potensiaal te benut weens sy emosionele bagasie. Sy vriend, gespeel deur Ben Affleck as Chuckie Sullivan, sê op 'n stadium vir Will dat hy hom moet laat gaan om sy talente te laat vlerke kry. Chuckie dring daarop aan dat Will sy huidige lewe moet agterlaat en sy potensiaal moet volg, omdat hy weet dat Will se werklike roeping buite die omgewing van hulle vriendskap lê.
"Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee." Joh 15:13
[1] https://youtu.be/CNBxIhxHHxM
[2] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling. Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006. Print.
[3] Die Lewende Bybel. Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1982. Print.
[4] Can't Praise Away the Mourning Sam McCabe https://youtu.be/N4SXF0IdN5U