Lewe in Oorwinning - 'n Goddelike Verbeelding
Droom weer opnuut nuwe drome saam met die Here, en laat toe dat Hy jou verbeelding vernuwe en heilig om te sien wat Hy sien.
Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. Joh 12:23-25
WAARHEID kan gesien word as die mees oortuigende raamwerk of patroon van regdenke waardeur ons die wêreld prioritiseer in vlakke van waarde.
Praktiese voorbeelde om hierdie idee te verduidelik:
'n Kompas werk omdat dit ingestel is op 'n vaste, betroubare waarheid—die magnetiese noorde. Wanneer 'n mens verdwaal is, is die kompas 'n noodsaaklike instrument, want dit help jou om rigting te vind deur jou fokus op 'n vaste punt te plaas. Sonder so 'n vaste riglyn sou jy maklik in sirkels loop en nooit jou bestemming bereik nie.
Net so funksioneer waarheid as 'n geestelike en morele "kompas" in ons lewens. Dit stel ons in staat om die wêreld te prioritiseer volgens wat werklik belangrik is en blywend waarde het. Byvoorbeeld, as waarheid bepaal dat mense gemaak is na die beeld van God, dan word menswaardigheid 'n fundamentele prioriteit bo materiële dinge. Hierdie waarheid verander hoe ons besluite neem, hoe ons ander behandel, en hoe ons die wêreld rondom ons verstaan.
Finansiële beplanning: As jy weet dat verantwoordelike finansiële bestuur (soos spaar, beleggings, en die vermyding van skuld) gebaseer is op tyd-getoetste raamwerk van prioriteite om byvoorbeeld langtermyn-stabiliteit bo korttermyn-genot te verkies. Hierdie waarheid lei tot 'n wyse en volhoubare lewenstyl.
Waarheid, soos 'n onfeilbare kompas, help ons om die wêreld in vlakke van waarde te kategoriseer: dit wat tydelik is, teenoor dit wat ewig is; dit wat oppervlakkig is, teenoor dit wat diep en betekenisvol is. Wanneer ons hierdie raamwerk gebruik, word ons lewens georden en word ons besluite meer sinvol en blywend.
Vir 'n gegewe patroon (waarheid) om in gebruik deur die meeste mense as die mees betroubare en getoetste hipotese beskou te word moet dit oortuigend sigbaar en koherent wees. Dit moet oor verskeie dissiplines toegepas wees, vanaf filosofie en biologie, tot wetenskap, teologie, wiskunde en kosmologie.
Beginsel van Saad
Een so 'n tydlose patroon is die beginsel van saad wat groei, sterf en vermenigvuldig.
Ons sien hierdie patroon oral: in die funksionering van ons selle wat groei, vermenigvuldig en sterf. Indien hierdie siklus verbreek word soos in die geval met kanker wat die DNA van die sel versteur, begin die sel te groei sonder om te sterf, en word dit kwaadaardige vergroeisels. Die oorlewing van plante en diere bestaan uit hierdie siklus van saad = groei + vermenigvuldig + sterf.
Selfs met betrekking tot voeding sien ons dieselfde patroon; ons kan nie net aanhou eet nie, ons moet werk en oefen, ons moet van tyd tot tyd vas, om die liggaam kans te gee om te "reset".
Hierdie patroon van die saad is dus 'n universele waarheid – die lewe floreer deur opoffering en transformasie.
In Bybelse denke (teologie) word hierdie patroon oor en oor verduidelik - as jy wil lewe, moet jy bereid wees om te sterf ("dying to live") vanuit Mat 16:24; Rom 6:12; Gal 2:20. Ons word geroep om van self te vergeet en selfloos te word wat uiteindelik die hoogste vorm van menslike bestaan is.
Sonde is om soos kanker te rebelleer teen hierdie godgegewe ingeplante bloudruk en ons geestelike DNA te verdraai. Sonde se denkpatrone is: "Ons lewe vir self"; "Die lewe draai om my"; "My wil en begeertes kom eerste"; "My plesier en begeertes moet nie onderdruk word nie, dit moet vrye teuls kry!"; "Ek is die middelpunt van my bestaan"; "Ek verset myself teen onderdrukking en enige vorm van beheer en dissipline."
Jesus het hierdie waarheid en teenmiddel perfek beliggaam. Hy het aan ons gewys: hoe mens geroep word om hul eie belange en oorlewingsdrang op te offer, hul wil oor te gee. Deur sy kruisdood het Hy vir ons versoening, redding en verlossing geword. Op dieselfde manier word ons eie verlossing in die lewe gedemonstreer in die opofferings wat ons maak – of dit nou is om hard te studeer vir 'n graad, getrou te werk om 'n inkomste vir jou gesin te verdien, kinders groot te maak wat beter vaar as jy, of om ander in nood te dien en te gee.
Die vraag wat ek vandag vir jou wil vra, is eenvoudig: Is jy bereid om hierdie patroon van opoffering te volg, soos Christus dit vir ons gewys het? Of sal jy vasklou aan die self en die lewe verloor wat Hy jou aanbied?
As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. (Johannes 12:23)
Is jy bereid om jou eie denke, wil, begeertes, drange, self-verwesenliking, beheer op te gee en Jesus te volg?
Vir diegene wat alreeds hierdie keuse gemaak het en 'n lewe van self-verloëning leef, is hier egter 'n kragtige geheimenis in hierdie vers opgesluit.
Jesus beskryf Sy naderende kruisdood, die grootste onreg opgeteken in mense geskiedenis as =
“Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word."
Jesus sien Sy kruisiging waar die mees onskuldigste mens wat ooit geleef het, die mees gruwelikste straf moes verduur as 'n verheerliking!
Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. (Heb 12:2)
Vir ons om in Jesus se opstandingskrag te leef, moet ons deur hierdie sterfproses gaan. Daar is geen ander weg as deur die kruis nie! Soveel verhoudings kan maklik opgelos word, iemand moet net jammer sê, en iemand moet vergewe!! Maar ons vleeslikheid wil nie. Ons eien onsself die reg toe, om kwaad te bly. Of ons regverdig onsself, ons voel nie ons het iets om voor jammer te sê nie. Hierdie is 'n goeie voorbeeld van hoe "eie-ek" oorneem, en weier om te sterf.
Geloof, die Krag van Goddelike Verbeelding
Dikwels gaan ons as gelowiges deur allerhande swaarkry, verlies, en lyding waar ons geloof getoets word. Gaan ons aanhou glo, al verloor ons alles? Gaan ons aanhou die Here dien en Hom loof, al sterf my geliefdes?
Moses het die volk na die beloofde land gelei, omdat hy alreeds die land in die geloof gesien het. Jesus het presies dieselfde gedoen, om die lyding van die kruis te kon verduur. Hy het alreeds Sy verheerliking gesien! Hy het alreeds ons verlossing en vrymaking gesien!
Hierdie goddelike verbeelding prentjie wat 'n persoon wat God se geloof ontvang sien, is ons redding! Dit is hoe ons lyding ontbeer en verduur! Ons sien alreeds die geestelike oes en seën wat die Here besig is om voort te bring deur ons sterwe.
Stefanus sien Jesus aan die regterhand van die Vader staan, terwyl hy gestenig word! (Hand. 7:54-60). Hierdie goddelike gebruik van jou verbeelding staan in krasse kontras teenoor die boosheid wat mense dikwels bedink.
Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. (Gen 6:5) "and that every imagination and intention of all human thinking was only evil continually."
Mag die Here ons verbeelding kom vul met goddelike gedagtes en prentjies van oorwinning, triomf, deurbrake, redding en genesing!!
Dikwels vermaan die bybel skrywers ons:
bedink die dinge wat daarbo is! Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Phil 4:8).
Vra die Here vir 'n nuwe prentjie in jou verbeelding. Vrees en bekommernis is ook prentjies. Ons sien alreeds hoe die balju opdaag. Ons verwag die ergste, en tog het dit nog nie gebeur nie!
Jesus leer ons 'n kragtige manier om die swaarste denkbare lyding nie net te verduur nie, maar daardeur te breek en die verheerliking wat die Here vir ons belowe het te sien! Begin alreeds die Here te dank vir die oorwinning!
WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. (Rom 8:18)
Fietsryers word geleer dat wanneer hulle in 'n skerp draai ingaan, hulle reeds moet fokus op waar hulle wil uitkom. Met ander woorde, kyk deur die draai en rig jou blik op die pad aan die ander kant, sodat jou liggaam en balans natuurlik die regte rigting volg.
Bid die Here om jou innerlike prentjie te verander wat jy oor jouself het. So baie mense sien hulle self as minderwaardig en nie goed genoeg nie. Sien jouself met Jesus se oë, soos Hy jou sien.
Sommige van ons is tans nog steeds vasgevang in baie moeilike omstandighede, vra die Here om vir jou die einde wat Hom verheerlik te wys.
" Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes." (Joh 4:35)
Dit wat sigbaar is is tydelik, die ONSIGBARE is EWIG!
omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Cor 4:18)
Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen (Isa 46:10).
Remember the former things, those of long ago; I am God, and there is no other; I am God, and there is none like me. I make known the end from the beginning, from ancient times, what is still to come. I say, 'My purpose will stand, and I will do all that I please." (Isaiah 46:9-10)