Nagmaal as 'n Bevrydingsfeesmaal!
Verstaan die Nagmaal Maaltyd vanuit sy oorsprong as Pasga maaltyd tydens die Jode se verlossing uit Egipte

KYK OP YOUTUBE
DIE VERHAAL VAN GOD en Sy uitverkore volk is van begin tot einde 'n storie van bevryding – nie net uit fisiese slawerny nie, maar uiteindelik van die mag van sonde.
Die ontstaan van hierdie volk begin met 'n roeping: God roep Abraham en belowe hom:
"In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word." (Genesis 12:3).
Mens is sekerlik nie 'n seën vir enigiemand as jy nie persoonlike welvaart het nie.
Abraham, Isak en Jakob was nie net geestelike vaders van die geloof nie, maar ook gesiene en invloedryke grondbesitters en veeboere – ware selfregerende “grondbaronne” van hulle tyd, met groot aardse besittings en gesag. Hulle het onder niemand, behalwe God se gesag gestaan nie.
Die Bybel beskryf Abraham se besittings as uitermatig groot. In Genesis 13:2 staan:
“En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en aan goud.”
Hy het soveel diere gehad dat hy en sy neef Lot uiteindelik moes skei omdat die land nie genoegsame weiveld vir albei se kuddes gehad het nie (Gen. 13:5–6). Toe hy sy slaaf Eliëser uitstuur om vir Isak ’n vrou te kry, sê hy:
“Die HERE het my ryk geseën, en Hy het my kleinvee en beeste gegee, en silwer en goud, en slawe en slavinne, en kamele en esels.” (Gen. 24:35).
Isak het in dieselfde spore gevolg. Hy het in die land van Gerar gewoon en gewerk, en ons lees in Genesis 26:12–14:
“En Isak het in daardie land gesaai en in dieselfde jaar honderdvoudig ontvang... En die man het groot geword en al groter geword totdat hy baie groot was. En hy het besittings van kleinvee en besittings van beeste en 'n groot aanhang gehad...”
So groot was sy sukses dat die Filistyne hom beny en uiteindelik versoek het om hulle land te verlaat.
Jakob, ook bekend as Israel, word later beskryf as ’n man met “groot goed en groot besittings”. Nadat hy vir Laban gewerk het, sê Genesis 30:43:
“Toe het die man uitermate voorspoedig geword en baie kleinvee gehad, en slavinne en slawe, en kamele en esels.”
Toe hy uiteindelik na Egipte trek, het hy met ’n gesin van sewentig siele gekom (Gen. 46:27), maar ook met baie vee en bediendes. Josef verseker hulle ’n plek in Gosen juis omdat hulle “veewagters is van kindsbeen af” en dus 'n selfonderhoudende, landbesittende gemeenskap was (Gen. 47:6).
Hierdie voorvaders was dus nie rondswerwende bedelaars of afhanklikes nie, maar magtige stamleiers met ekonomiese mag, politieke invloed, en 'n gevestigde huishouding – voorlopers van ’n nasie wat eendag sou opstaan as die volk van God. Hierdie gedagte is ook in lyn met oorspronklike goddelike verhouding van heerskappy en gemeenskap wat in Eden bestaan het.
Die storie van hoe Jakob (Israel) in Egipte beland het, begin met Josef – Jakob se seun wat as slaaf verkoop is deur sy broers (Gen. 37), maar uiteindelik die tweede in bevel oor Egipte geword het (Gen. 41:40). Toe daar 'n groot hongersnood kom, bring Josef sy hele familie – sewentig siele – na Egipte toe om oorlewing en seën te vind (Gen. 46:5-7). Hulle vestig hulle in Gosen, ’n vrugbare streek wat hulle goed kon benut as herders.
“En Israel het in Egipteland gewoon... en hulle het daarin vermenigvuldig en baie geword.” (Eks. 1:7)
Met verloop van tyd het 'n “nuwe koning oor Egipte opgestaan wat Josef nie geken het nie” (Eks. 1:8). Hierdie koning sien hoe vinnig die Israeliete in getalle toeneem, en hy raak bang hulle sal hom dalk oortref en saam met vyande teen Egipte veg.
“Laat ons wys optree teen hulle, dat hulle nie te veel word nie.” (Eks. 1:10)
Hierdie vrees lei tot ’n stelselmatige proses van onderdrukking:
- Hulle word tot dwangarbeid gedwing (Eks. 1:11)
- Hulle word met bitterheid behandel (Eks. 1:14)
- Hulle seun babas word beveel om in die Nyl gegooi te word (Eks. 1:22)
In Genesis 15 het God reeds aan Abraham gesê:
“Weet verseker dat jou nageslag ’n vreemdeling in ’n land sal wees wat nie aan hulle behoort nie, en hulle sal hulle diensbaar maak en verdruk – vierhonderd jaar lank.” (Gen. 15:13)
“Maar daarna sal Ek die nasie oordeel... en hulle sal uittrek met baie besittings.” (Gen. 15:14)
Tog was die Jode nie heeltemal onskuldig nie.
Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg die afstootlike afgode, moet julle nie verontreinig met Egipte se afgode nie. Ek, die Here, is julle God.’ Maar hulle het hulle teen My verset, hulle wou nie na My luister nie. Hulle het nie hulle afstootlike afgode weggegooi nie en het nie afgesien van Egipte se afgode nie. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in Egipte, maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring. “Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek. (Eze 20:7-10)
Later sou Moses die volk baie duidelik en eksplisiet waarsku: Hierdie vloeke sal oor julle kom as hulle nie die Here met vreugde dien nie:
“As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie. “As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref: (Deut 28:15-68) Sien ook (Lev 26:1-47)
Die Dag van Israel se Bevryding
Stel jou voor, 'n eenvoudige Joodse gesin in die land van Gosen. 'n Pa met growwe hande van bakstene maak, 'n ma wat elke dag probeer kos voorberei uit die min wat daar is, en kinders wat leer om in stilte te leef onder die harde kyk van Egiptiese slawebewaarders. Hulle het gehoor van Moses – die een wat grootgeword het in Farao se paleis – nou terug met woorde van bevryding. 'n Vonkie hoop het ontstaan... maar dit is vinnig uitgedoof toe dinge net erger word.
Die pa kom elke dag later en moeg terug – hy moes nou nie net bakstene maak nie, maar ook self strooi soek in 'n droë landskap. Die werk het hom amper gebreek. Sy hande is bloederig, sy asem kort. Die kinders vra vrae, maar Ma het nie antwoorde nie. “Hoekom het Moses gekom? Hy sou ons tog help!” Maar die werk het net swaarder geword, en die sweep en skel van die opsigters het al hoe harder in hulle ore weerklink. (Exo 5:7-9) Die pyn was intens, maar 'n fluistering van geloof het gebly: Die God van Abraham, Isak en Jakob het nie vergeet nie.
Toe kom die eerste plaag. Die Nyl – daardie legendariese primêre simbool van Egiptiese voorsiening – word bloedrooi. Die visse vrot, die lug ruik na dood. Elke dag bring 'n nuwe ramp: paddas, muggies, peste, en dan hael en sprinkane. Die Egiptenare is in paniek, maar in Gosen is daar vrede – ’n wonderlike onderskeiding tussen die onderdrukkers en die onderdruktes. Die kinders begin vra: “Mamma, hoekom is ons nie getref nie?” En sy fluister: “Want die God van Israel hou sy hand oor ons.”
Teen die tyd van die negende plaag, toe die duisternis soos 'n digte kombers oor Egipte lê, begin hierdie gesin aan iets groter dink. Die Egiptiese gode is in duie. Farao is stil. Maar Moses is steeds dapper. (Exo 12:31-32) Dan kom die opdrag:
“Kies ’n lam. Slag dit. Smeer die bloed aan julle deur.” (Exo 12:13)
Die pa vat sy oudste seun saam. Hulle kies ’n volmaakte lam. Die seun help vir die eerste keer om 'n dier te slag. Sy hande bewe, sy hart klop hard. Die bloed word met hisop op die deur geverf. Die aand kom. Hulle eet haastig – die lam, ongesuurde brood, en bitter kruie. Hulle oë is wyd, hulle harte vol vrees én verwagting.
Die seun kyk na sy pa en fluister: “Wat gaan vanaand gebeur?” Die pa antwoord met trane in sy oë: “God gaan verby ons huis stap. As Hy die bloed sien, sal Hy ons spaar.”
En toe... kom die nag. ‘n Stilte soos geen ander. En toe – die gil. Die hartverskeurende geskree van moeders in Egipte. Die oordeel het gekom. Maar in daardie klein huisie in Gosen: Vrede. Lewe. Beskerming. Bevryding.
Daardie aand sou hulle nooit vergeet nie. Dit was die aand waarop hulle nie net aan die dood ontkom het nie – dit was die aand waarop hulle as 'n nuwe volk gebore is.
Nie meer slawe nie, maar kinders van die verbond. Bevry. Vrygemaak. Geseël onder die bloed van die Lam.
Die Tweede Toneel Nog Steeds Vasgevang
Ná daardie dramatiese nag van bevryding in Egipte het die volk van Israel – nou ’n georganiseerde groep van vrygemaakte slawe – hulle reis begin deur die woestyn, op pad na die land wat God aan Abraham belowe het. Maar Egipte was nog in hulle harte. Die sonde het hulle steeds vas. Die bloed van lammers moes jaarliks weer en weer gevloei het.
Ondanks God se wonderwerke – die rooi see wat oopgaan, manna uit die hemel, water uit die rots – het die volk herhaaldelik in ongeloof en opstand verval. As gevolg hiervan het hulle veertig jaar in die woestyn gewandel, totdat die hele generasie wat uit Egipte gekom het, gesterf het, behalwe Josua en Kaleb, die enigste twee spioene wat met geloof gepraat het (Num. 14:30).
Onder Josua se leierskap het die nuwe geslag uiteindelik die Beloofde Land binnegegaan. Daar het hulle die land in besit geneem, maar nie heeltemal volgens God se opdrag al die heidense nasies verdryf nie – ’n fout wat latere verleiding en afgodery sou meebring. Ná Josua se dood het die volk in ’n siklus van sonde, onderdrukking, berou, en redding geval – die era van die Rigters. Hierdie tydperk was gekenmerk deur woorde soos:
“Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rig. 21:25).
God het rigters soos Gideon, Debora, Simson en Jefta opgerig om hulle te bevry van vyande soos die Midianiete, Filistyne en Amalekiete.
Dan kom Samuel – profeet, priester en laaste rigter – wat Israel geestelik wou herlei, maar die volk wou eerder ’n koning hê, “soos die ander nasies” (1 Sam. 8:5). Alhoewel God dit as ’n afwysing van Sy heerskappy sien, gee Hy toe. So begin die era van die monargie met Koning Saul, ’n man wat goed begin het maar ongehoorsaam geëindig het. Na hom volg David, die man na God se hart (1 Sam. 13:14), wat Jerusalem as hoofstad vestig en die Ark van die Verbond herstel tot sentrale plek. Hy bring ’n tyd van politieke eenheid en geestelike fokus. Sy seun Salomo, die wysste man wat ooit geleef het, bou die eerste tempel in Jerusalem – ’n era van rykdom, vrede en glorie, maar ook van kompromie. Salomo neem baie vroue uit vreemde nasies, en hulle afgodery bring afwyking in sy laaste jare (1 Kon. 11).
Na Salomo word die koninkryk verdeel:
Die Noordelike Koninkryk: Israel, met 10 stamme en Samaria as hoofstad. Hierdie koninkryk het 19 konings gehad – nie een van hulle het God getrou gedien nie. Baäl- en afgodedienste het floreer. God het profete soos Elia, Elisa, Amos en Hoséa gestuur om hulle te waarsku. Uiteindelik het die Assiriërs in 722 v.C. Israel verower en die volk in ballingskap geneem – ’n verstrooiing wat nooit weer herstel is nie.
Die Suidelike Koninkryk: Juda, met Jerusalem as hoofstad en die stamme van Juda en Benjamin. Juda het 20 konings gehad, waarvan net 8 die Here werklik gedien het (bv. Hiskia en Josía). Ondanks geestelike herlewings het Juda ook verval. God het Jesaja en Jeremia gestuur, maar toe Juda nie luister nie, het God die Babiloniërs gebruik om die volk te straf.
In 586 v.C. val Jerusalem. Die tempel word vernietig, en die elite van Juda word weggevoer na Babilon – die ballingskap wat die Psalmdigter beskryf het met: “Langs die riviere van Babilon het ons gesit en geween…” (Ps. 137:1).
Maar selfs daar het God Sy volk nie verlaat nie. Ná 70 jaar laat God toe dat die Persiese koning Kores ’n bevel uitreik om die tempel in Jerusalem te herbou (Esra 1:1-4). ’n Oorblyfsel keer terug onder leiers soos Serubbabel, Esra en Nehemia. Die tempel word herbou en die mure van Jerusalem herstel. Tog het Israel nooit weer volle onafhanklikheid of koninklike glorie beleef nie.
En toe… kom vierhonderd jaar van stilte. Geen profeet, geen openbaring, geen direkte ingryping van God nie. Net afwagting. Maar selfs in die stilte werk God. Die wêreld verander: Babilon val vir Persië, Persië vir Griekeland, en Griekeland vir Rome. Die toneel word voorberei...
Vir die koms van die ware Verlosser.
Nie net om Israel van Rome te red nie,
maar om die wêreld van sonde te bevry.
Jesus Christus – die vervulling van elke verbond, elke profesie, en elke Pasga-lam.
Die ware Koning, Priester, Profeet.
Die Seun van Dawid én die Seun van God.
Die Ware Bevryder het Opgedaag
En wie is hierdie Jesus? Die Skrif noem Hom keer op keer die Verlosser. Sagarias profeteer:
“Geloof sy die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk besoek en verlossing vir hulle bewerk.” (Luk. 1:68).
In Romeine 11:26 staan:
“Die Verlosser sal uit Sion kom...”
Die vroue van Samaria het van Hom gesê:
“Nou weet ons dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (Joh. 4:42).
En in Handelinge 5:31 lees ons:
“God het Hom verhoog... as Leidsman en Verlosser, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te gee.”
Verder bevestig Titus 2:13–14 dat ons wag op
“Ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid.”
Hierdie verlossing is nie net van omstandighede nie – dit is van sonde, skuld, die dood en die bose self.
Soos Moses, doen Jesus ook magtige wonderwerke – maar hierdie keer is die bevryding veel dieper en radikaler. Die volk is nie meer net slawe onder ’n bose wêreldse owerheid soos Farao nie; hulle is vasgevang in ’n nog gevaarliker juk: die slawerny van sonde.
Hulle leef onder die oorheersing van mense-tradisies en godsdienstige sisteme wat uiterlike vorm het, maar geen innerlike krag om werklik te red nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs hou die volk gevange in ’n stelsel van reëls en rituele, sonder ware lewensverandering.
Jesus kom as die groter Moses – nie net om ’n volk uit ’n land te lei nie, maar om die hele mensdom uit die slawerny van die hart te bevry.
Sy wonderwerke is tekens van ’n nuwe skepping, van ’n koninkryk waarin genesing, vergifnis en vryheid die nuwe wet is.
Die Bevrydingsmaal
Op die Pasga-aand, sit Jesus van Nasaret saam met sy dissipels. Hy neem die brood – nie net as ’n herinnering nie, maar as ’n profetiese deklarasie. Hy vervul die Pasga – nie net simbolies nie, maar werklik. Jesus is die Lam – nie net vir een nag nie, maar vir alle tye. Soos Paulus sê:
“Want ook ons paaslam is geslag, naamlik Christus.” (1 Kor. 5:7).
Die Breek van die Brood
Toe Jesus Sy laaste Pasga saam met Sy dissipels gevier het, het Hy vir hulle matzah gegee as die simbool van Sy liggaam. Die matzah is ongesuurd, gestreep en deurboor, net soos die profeet Jesaja die Messias beskryf:
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die tugtiging vir ons vrede was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jesaja 53:5).
Voor die maaltyd is hierdie matzah gebreek, in linne toegedraai en weggesteek. Na die aandete verskyn die matzah weer. Vir die Messiaanse Joodse gemeenskap verteenwoordig die afikomen simbolies die Messias, aangesien Jesus se liggaam gebreek, in linne toegedraai, begrawe en op die derde dag opgewek is. Jesus verklaar, Ek is hierdie Verlosser en Messias!
Die nagmaal herdenk dus Jesus se dood en opstanding soos die Pasga die verlossing uit Egipte herdenk het.
Die opstanding is die enkele grootse historiese gebeurtenis waar ‘n nuwe nasie tot stand gekom het - Sy Kerk, Sy Liggaam, Sy nuwe Heilige Nasie!
Die Derde Beker van Verlossing
"Toe neem Jesus die derde beker, die beker van verlossing" - dit kom uit Eksodus 6:6.
"Ek sal jou verlos met ‘n uitgestrekte arm. Dit sou die beker gewees het wat Jesus by die Laaste Avondmaal opgehef het." Psalm 49:7-8
"Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie." Jeremia 31:33-34
Toe Jesus die derde beker neem – die beker van verlossing kondig Hy aan dat Hy die verlossing is, die lam geslag, wie se bloed vergifnis en vrymaking van sonde bring.
Tydens hierdie maaltyd herdenk ons:
- Jesus se dood as soenoffer vir ons sonde – vergifnis van sonde moet ook ander vergewe
- Jesus se opstanding en krag tot ‘n nuwe lewe – verbond van die NT beseël
- Ons gemeenskap met Hom en met mekaar – solidariteit en deel in mekaar se lewe. Hoe leef ons dit wat ons nou-net herdenk en verklaar het prakties uit?
Nagmaal herdenk die enkele grootste bevryding en totstandkoming van ‘n nuwe nasie gebore vanuit en onder Jesus Christus. Die nagmaal herdenk dus Jesus se dood en opstanding soos die Pasga die verlossing uit Egipte herdenk het. Wanneer ons dus by die nagmaaltafel aansit, is dit nie net ’n ritueel nie. Dis nie net 'n gedenkmaal nie. Dis ’n bevrydingstafel. Dis ons Pasga. Dit is die plek waar ons saam met ons geestelike Vader staan, en hoor: “My kind, jy is vry. Jy is losgekoop. Jy is deel van My volk.”
Want aan daardie tafel word ons herinner: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).
Die brood sê: jy is deel van Sy liggaam.
Die wyn sê: jy is onder Sy bloed.
En jou identiteit is verander.
Jy is nie meer 'n slaaf nie – jy is ’n seun, ’n dogter, ’n burger van ’n nuwe koninkryk.
Soos daardie seun in Egipte wat nooit daardie nag sou vergeet nie, mag ook jy nie hierdie nagmaal ooit as 'n blote simboliek sien nie. Hierdie is jou bevrydingsmaal.
Christus, jou Verlosser, het gekom – en Hy het jou werklik vrygemaak.