Weerstaan Die Storms van die Lewe in Christus

Histories is ons as kinders van die Here gewoond aan teëstand, verdrukking, en lewensdramas.  Ons is baie diep geanker in Christus te midde van die storms!

Weerstaan Die Storms van die Lewe in Christus

KYK SONDAGDIENS OP YOUTUBE

LUISTER SONDAGDIENS OP SPOTIFY PODGOOI

DIE wêreld verander sedert die COVID-pandemie teen 'n verbysterende tempo. Te midde van toenemende natuurrampe – soos die onlangse verwoestende aardbewing in Myanmar, die vernietigende brande wat dele van Los Angeles geteister het, en die gereelde orkane wat veral die Atlantiese kus teister; is daar ook beduidende politieke en ekonomiese omwentelinge.

Op 2 April 2025 het president Donald Trump sy "Liberation Day" aangekondig, gepaard met 'n wederkerige handelstariefplan wat drastiese tariewe invoer om handelsooreenkomste meer in Amerika se guns te hervorm. In Suid-Afrika bewe ons oor die moontlikheid dat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) uitmekaar kan val, die uitstel van die begrotingsaanvaarding, en die direkte dreigemente van die Verenigde State teen die Suid-Afrikaanse regering. 

Op grondvlak worstel ons intussen met talle uitdagings: kragonderbrekings, water tekorte, stygende lewenskoste, en diep onsekerheid oor die toekoms. Die lewe gaan egter ook aan: kinders moet skool toe; ons probeer ons werk afhandel elke dag; genoeg oefen; reg eet en slaap inkry.  As kinders van die Here is ons gewoond aan teëstand, verdrukking, en lewensdramas.  

Vroeë Christenskap Perspektief

Die Christene aan wie die Nuwe-Testamentiese geskrifte gerig is, het gedurende die eerste eeu ná Christus in ‘n wêreld geleef wat oorheers is deur die Romeinse Ryk, met al die sosiale, politieke en godsdienstige kompleksiteite wat dit ingehou het. Buiten die Bybelse tekste, is daar 'n rykdom aan bronne wat insig bied in die daaglikse lewe, uitdagings en vervolging wat hierdie vroeë volgelinge van Christus beleef het.

Die Romeinse Ryk was in wese ‘n hiërargiese, patriargale en militaristiese samelewing. Burgerskap was eksklusief, en slawerny was 'n sentrale komponent van die ekonomie. Die meeste Christene in die eerste eeu het uit die laer sosiale klasse gekom—slawes, vroue, werkers en kleinhandelaars (Meeks, 1983). James H. Charlesworth wys daarop dat die meerderheid Christene nie van die eliteklas was nie, en dus dikwels geen politieke invloed gehad het nie (Charlesworth, 2006).

Volgens Wayne A. Meeks in The First Urban Christians, het die vroeë Christene meestal in stedelike sentra gewoon, soos Korinte, Rome, Efese en Antiogië. Hierdie gemeenskappe het bestaan in 'n wêreld van veelvuldige gode, tempels en keiseraanbidding, en die Christelike geloof, wat net één God en één Here erken het, was radikaal teenkultureel (Meeks, 1983).

Die Romeinse owerhede het Christene dikwels as verdag beskou, veral omdat hulle geweier het om keiserlike beelde te aanbid of aan publieke heidense seremonies deel te neem. Volgens Tacitus, die Romeinse geskiedskrywer, is Christene tydens Nero se bewind na die brand van Rome in 64 n.C. wreed vervolg. Hy beskryf hulle as ‘n "hatelike bygelowige sekte" (Annales XV.44). Hierdie getuienis dui op hoe Christene nie net as godsdienstig afwykend nie, maar ook as staatsgevaarlik gesien is.

Ook Suetonius, nog ’n Romeinse historikus, verwys na 'n konflik in Rome "aangehits deur 'n sekte onder leiding van Chrestus", wat waarskynlik 'n verwysing is na Christus en sy volgelinge (Vita Claudii, 25.4).

Aangesien Christene vir die eerste 250 jaar geen formele kerke gehad het nie, het hulle in huise saamgekom. Hierdie huiskerke was klein, intiem, en gekenmerk deur 'n familiale sfeer van gebed, leer, belydenis en tafelgemeenskap (Graydon F. Snyder, 1985). Die eet van die nagmaal, wat vir buitestaanders soos ‘n geheime, byna kannibalistiese ritueel geklink het, het wanpersepsies gevoed (Plinius die Jongere, Epistulae 10.96).

Volgens Plinius die Jongere, ‘n Romeinse goewerneur van Bithynië (omstreeks 112 n.C.), het Christene soggens vroeg bymekaargekom "om Christus as 'n god te besing", en daarna het hulle gesweer om nie te steel, owerspel te pleeg of bedrog te pleeg nie. Hierdie brief aan keiser Trajanus is 'n belangrike buite-Bybelse bewys van die etiese riglyne en vrome lewenswyse van vroeë Christene (Plinius, Epistulae 10.96).

Omdat Christene nie kon deelneem aan sekere gilde-aktiwiteite en keiserlike seremonies nie, is hulle soms ekonomies gemarginaliseer. Veral in stede soos Efese en Rome, waar vakbonde of ambagsgildes dikwels gebed vir afgode ingesluit het, kon Christene as “onbetroubaar” of “onprofessioneel” beskou word. Tog was hulle bekend vir hul liefdadigheid, solidariteit en sorg vir armes en siekes, selfs buite hul eie gemeenskappe (Rodney Stark, 1996). [i]

Oorsprong Van Christelike-Oorwinning Konsepte

Waar sou Paulus sy beelde van die “triomftog,” “meer as oorwinnaars,” “onverwelklike kroon,” en atletiekmetafore soos die wedloop en atleet vandaan gekry het?

Hierdie metafore is gegrond in die Grieks-Romeinse kultuur van die eerste eeu, en Paulus gebruik dit doelbewus om geestelike waarhede in kultureel bekende beelde oor te dra:

1. “Triomftog” / “Triomfantlike INMARS”

📖 2 Korintiërs 2:14 – “Maar God sy dank, wat ons altyd in Christus laat triomfeer…”

Paulus verwys hier na die bekende Romeinse triomftog (triumphus), ‘n openbare parade waarin ‘n oorwinnende generaal, met sy leër en oorlogsbuit, deur die strate van Rome gelei is ter ere van sy oorwinning. Gevangenes en buit is ook in die stoet vertoon. Paulus gebruik hierdie beeld om te wys dat Christus ons nie net red nie, maar deur ons Sy oorwinning openbaar.


2. “Meer as OORWINNAARS”

📖 Romeine 8:37 – “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”

Die Griekse woord “hypernikaō” beteken letterlik “om volkome te oorwin” of “oorweldigend te triomfeer.” Paulus gebruik ‘n militêre term, maar versterk dit om aan te dui dat gelowiges nie net oorleef nie, maar volkome oorwinning behaal in Christus, selfs te midde van lyding.

3. “Onverwelklike KROON”

📖 1 Korintiërs 9:25 – “Hulle doen dit om ‘n verwelklike kroon te verkry, maar ons ‘n onverwelklike.”

Paulus verwys hier na die oorwinningskranse wat atlete ontvang het tydens spele soos die Isthmiese Spele naby Korinte. Hierdie kranse was van seldery of denne gemaak, en het vinnig verwelk. Paulus kontrasteer dit met die ewige beloning van die gelowige.

4. Atletiekmetafore – WEDLOOP en Selfdissipline

📖 1 Korintiërs 9:24–27 – “Hardloop so dat julle dit kan behaal…”
📖 2 Timoteus 4:7 – “Ek het die goeie stryd gestry, die wedloop volleindig…”

In die Grieks-Romeinse wêreld was atletiek deel van die kultuur, veral by die Olympiese Spele, die Isthmiese Spele, en ander plaaslike kompetisies. Paulus gebruik die beeld van ‘n atleet wat oefen, volhard, en die prys wen om dissipelskap, selfdissipline, en volharding in geloof te illustreer. Sy gehoor in stede soos Korinte en Efese sou hierdie metafore goed verstaan het.

Paulus gebruik beelde uit Romeinse militêre seremonies en Griekse sportkultuur om geestelike waarhede sigbaar te maak. Hy herinterpreteer bekende kulturele konsepte om die radikale aard van Christus se oorwinning, en die oproep tot volgehoue geloof en heiligheid, aan sy lesers duidelik te maak. 

Oorwinnings Skrifgedeeltes

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Rom 8:37-39
"Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (John 16:33)
Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie. (1 Cor. 15:57)
Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. (2 Cor. 2:14)
want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. (1 John 5:4)

Hierdie Skrifgedeeltes kry nou 'n dieper en vars betekenis dat:

  • Dit ons leer hoe om die storms van die lewe met geloof en volharding te weerstaan.
  • Dit ons herinner dat alles wat menslik en sigbaar is—ons besittings, strukture en geriewe—uiteindelik tydelik is en verbygaan. Selfs in die ergste geval, as ons materiële dinge verloor wat ons lewens gemaklik maak, is dit nie die einde nie.
  • Daar is baie mense regoor die wêreld is wat met min of selfs niks, steeds vol vreugde en vrede leef. Ware vreugde kom nie uit wat ons besit nie, maar uit Wie ons besit.
  • Ons voorouers het reeds deur baie donker tye gegaan—die Tweede Wêreldoorlog, die Groot Depressie, hongersnode, siekte en vervolging—en tog het hulle oorleef. In baie gevalle het hulle geloof in sulke tye selfs sterker geword.

Laat ons dus moed skep: God is getrou, selfs in die donkerste tye, en Hy gebruik storms om ons geloof te verdiep, ons prioriteite te herskep, en ons afhanklikheid van Hom te versterk.

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Cor 4:16-18)  

Hennie Bester se Beeld  

Stel jou ‘n rivier voor wat lankal verstop is—vol opgehoopte puin, takke, modder, selfs rommel wat oor tyd ingetrek het. Die natuurlike vloei van die water is geblokkeer. Alles lyk stil, selfs doods. Maar diep onder die oppervlak begin die stroom stadig maar seker druk opbou. Dan, skielik, breek die water deur—eers stadig, toe kragtig. ‘n Skoonmaakproses begin. Die stroom begin al die opgeboude gemors uitspoel.

Dinge wat lank vasgesit het, kom los: ou seer, vergete herinneringe, verkeerde gewoontes, selfs leuens waarin ons onbewustelik begin glo het. Dis ‘n rof, soms pynlike proses. Maar dis noodsaaklik. Want slegs wanneer die rivier weer vrylik vloei, kan dit lewe bring—aan die omgewing, aan alles wat daaraan drink, en aan onsself. Só werk die Gees van God ook: Hy bring deurbrake, maar dikwels gaan dit gepaard met ‘n diepte-skoonmaak van die siel.

Hoe God Uitdagings Gebruik

Ek is egter daarvan oortuig dat elke krisis ook unieke geleenthede inhou. Tydens die COVID-19-pandemie het ons byvoorbeeld gesien hoe kerke nader aan mekaar beweeg en in baie gevalle hande vat om gemeenskappe saam te dien. In ons eie dorpe en woonbuurte het daar ‘n hernude gevoel van sorg en gemeenskap ontstaan—mense het vir mekaar begin omgee op ‘n manier wat ons lanklaas gesien het.

Die herstel, of eerder regstelling, wat ons tans in die gesig staar, móét plaasvind. Ons almal besef dat die pad waarop ons land se regering tans beweeg, nie volhoubaar is nie—nie op ekonomiese, maatskaplike of morele vlak nie. Die wêreld beweeg duidelik in ‘n rigting waar lande toenemend hul eie belange begin prioritiseer. Nasionalisme, selfbeskerming en ekonomiese onafhanklikheid neem weer sentrale plekke in internasionale beleidsrigtings in.

Multikulturele samelewings, hoewel dikwels as ideaal voorgestel, bring ook hul eie uitdagings mee. In baie gevalle leef mense in dieselfde gebied, maar nie in gemeenskap nie. Ons is inwoners, maar nie meer bure nie. Die verskille in godsdiens, kultuur en taal is soms eenvoudig té groot om op ‘n natuurlike manier te oorbrug, veral wanneer daar nie 'n gedeelde waardestelsel of morele anker bestaan nie.

Dit beteken nie dat verskeidenheid per definisie sleg is nie, maar dat ware samehorigheid nie bloot deur geografiese nabyheid of politieke beleid bewerkstellig word nie. Eerder moet gemeenskap gevorm word rondom gedeelde waardes, gedeelde verantwoordelikheid, en ‘n gesamentlike strewe na geregtigheid, vrede en waarheid.


[i] Bronne / Werke Aangehaal:

  1. Meeks, Wayne A. The First Urban Christians: The Social World of the Apostle Paul. Yale University Press, 1983.
  2. Tacitus. Annales XV.44.
  3. Suetonius. Vita Claudii 25.4.
  4. Plinius die Jongere. Epistulae 10.96.
  5. Snyder, Graydon F. Ante Pacem: Archaeological Evidence of Church Life Before Constantine. Mercer University Press, 1985.
  6. Charlesworth, James H. Jesus and Archaeology. Eerdmans, 2006.
  7. Stark, Rodney. The Rise of Christianity. HarperOne, 1996.
  8. James S. Jeffers, The Greco-Roman World of the New Testament Era (IVP Academic, 1999).